Hinke-PINKSTER!


"God is doing new things, Jesus proclaimed, but only those with new minds and hearts can see a new world breaking through the cracks of the old."

Ilia Delio, The Hours of the Universe

'n Ander wyse man (W.H. Auden) het gesê: "Ons sal eerder vernietig word as verander. Ons sal eerder sterf in ons vrees as om die kruis van die oomblik te klim en ons illusies te laat doodgaan."


In Jesus het die Woord vlees geword en kon gewone sterflinge God van aangesig tot aangesig ontmoet, aanraak, belééf. God in vlees en bloed. Dit was nie die geval in die Ou Testament nie. Daar is trouens geglo dat niemand God sou kon sien en bly leef nie. Niemand behalwe 'n man wie se naam bedrieër en plaasvervanger beteken het nie. Jakob Regop. Toe worstel hy een nag met God en hy weier om handdoek in te gooi voor God hom nie seën nie. Toe word hy Israel Nie-Meer-So-Regop-Nie. Die original hipster. Maar 'n heupvervanging, of 'n mank heup, is sekerlik 'n klein prys om te betaal om God te kan sien. Om van Broer Bedrieër herdoop te word na Vader Jakob.


Iemand beskryf hierdie ontmoeting so: "A man was left wounded, but intact."


Gewond, maar heel.


Beseer, maar ongeskonde.


So hinkepink en tog so pinkster.


Presies soos pinkster met die dissipels gemaak het. Voor die uitstorting van die Heilige Gees was hulle bloot dissipels en word hulle altyd baie menslik uitgebeeld in kunswerke. Na Pinkster word die dissipels apostels en word hulle geteken met stralekranse. Die verlies (aan Christus) moes hulle aan die een kant verlam, ontwortel, gekraak laat voel het en tog het Jesus dit oor en oor in hulle koppe probeer kry dat ten einde 'n nuwe verbeelding te kan omhels, moet die ou een eers ontrafel.


Richard Rohr skryf: "Dink aan jou eie ervaring. As jy 'n kraak sien (soos in jou huis of in jou vel - lees: plooi), wat is jou eerste instink? Druk die stukke weer saam en patch dit. Uiteindelik kom 'n kontrakteur met die slegte nuus: daar's diep skade hier en as jy dit nie aanspreek nie, gaan die hele struktuur fundamenteel meegee. Jy sug en onderhandel." Rohr sê dan verder: "Ek weet nie van jou nie, maar ek het 'n verrassende kapasiteit om myself te mislei voor ek erken hoe stukkend die struktuur is. Met genoeg duct tape en tou, kan enigiets terugkeer na normaal. Maar dis soos om die dekstoele van die Titanic rond te skuif terwyl die orkes al "Nader my God" begin speel."


Hierdie is so 'n tyd vir die Kerk en vir elkeen van ons. 'n Kerk en mense wat teruggebring word op hulle knieë deur ontwrigting en agteruitgang mag dalk net 'n minder arrogante en aanmatigende kerk wees. Dit mag minder illusies hê oor sy eie mag en beheer. Dit mag weer nuuskierig word. So 'n kerk mag dalk minder gewillig wees om kragte saam te span met empires en magte wat die kerk vir 'n lang tyd gedefinieer het. Ons mag dalk uiteindelik erken hoe erg ons die ware krag en wysheid van die Heilige Gees nodig het. Dis 'n kerk waarmee God kan werk.


Ek glo vas dat hierdie 'n tyd is waarin ook ons - Christus se liggaam - ontwortel vóél en terselfdertyd diep gegrond ís. Onvas op ons voete én styf teen (lees:ín) God se bors.


Gewond én verwonderd.


Soos die profeet Miga ons herinner het: "Wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?"


... but to do justice, to love kindness and to walk humbly with your God...


En hoeveel ootmoediger kan mens loop as juis met 'n mank heup?


- Deur Frieda van den Heever