Herder-digter
- inviagemeente
- Jul 17
- 4 min read

“During times of peace, we must try and make space for ambiguity”.
– Antjie Krog, Country of my skull
Dis min of meer die jaar 1630 en op ons eie kontinent, in Ethiopië, vlug ’n geleerde man een aand vir sy lewe. Al wat hy saam met hom vat, is ’n bietjie goud en die Psalms. Alhoewel Ethiopië teen hierdie tyd al vir eeue lank ’n Christelike land is, het spesifiek Katolieke Christenskap onlangs die amptelike nasionale godsdiens geword. Zera Yacob vlug met sy Psalms en sy goud omdat hy nie dit nie net van een kant af wil sien nie. Tien jaar lank het hy die Bybel formeel bestudeer. Nogtans besef hy dat sy eie sienings oor godsdiens nie uit die staanspoor ander s’n verkeerd maak nie. Dis nie noodwendig ’n veilige standpunt nie. Daar is ’n klag teen hom by die keiser wat sê hy wil mense in opstand bring. Vir twee jaar lank kruip hy weg in ’n grot waar hy die groot vrae van die lewe probeer ontrafel.
Hoekom het hy juis die Psalms gevat?
Dis waarmee hy nog altyd gebid het.
Vandag nog kom ek (ietwat onvolledige) Bybels tee as ek reis – die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke. Martin Luther het die Psalms bestempel as ’n Bybel in die kleine. Vir Zera Yacob was die Psalms goud werd toe hy die nodigste moes gryp. Uit allerhande eeue en plekke aanvaar Christene die Psalms as broodnodig. Tog kom dit uit ’n tyd voor Jesus. Kan ek dan iets van Jesus daarin sien?
Psalm 22 se eerste woorde is bekend vir my omdat ek dit eers gehoor het by Jesus. Lank voordat ek dit in die Psalms gelees het. Nou kan ek dit nie hoor sonder Jesus se stem nie. Die evangelies in ons Bybels het net sóveel plek vir Jesus om direk aan die woord te wees. Die kere wanneer sy woorde die Ou Testament s’n eggo, is dit meestal Psalms. Dis nou volgens die mense wat telling hou.
Dit kan aanloklik wees om sulke fragmente te interpreteer as die berekende leidrade van ’n geestelike woordsom. Liewer nie, waarsku Walter Brugguemann. Hoekom? Pasop om so die Psalms op ’n veilige godsdienstige afstand te hou. Soos die cliché op karspieëltjies sê: Objects may be closer than they appear. Gewoonlik trap ons dan maar die petrol om afstand te kry. As ons die Psalms stroop tot ’n paar gegewens in ’n storie wat ons al van voor tot agter ken, laat val ons iets in die veilige volgafstand.
“…a relationship with the Bible can be as real and as complicated as a relationship with a family member or close friend. For better or worse, my story is inextricably tethered to the stories of Scripture” - Rachel Held Evans
As ek wil sien hoe die Psalms en Jesus bymekaarkom kan ek dit nie net van een kant af doen nie. Al weet ek soos Zera Yacob dis gevaarlike grond. Doelbewus. Om die veilige volgafstand kleiner te maak. Sodat die Psalms my kan inhaal. Jesus ook. Die veilige godsdienstige afstand was klaarblyklik ook nie vir Hom nie. Die rou menslikheid wat die Psalms wys? God word nie mens en gebruik dan sy ledemate net om dit te systap nie.
“The body is not a drag on implementing the kingdom of God; it is the scene of its accomplishment.” - John D. Caputo
Wat maak ek dan hiermee:
Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel. (Psalm 22:18-19, 1983 Vertaling)
Ek kan natuurlik nie die ooreenkomste met Jesus se kruisiging ignoreer nie. Terselfdertyd is hierdie Psalm (en al die ander) ook die woorde van Jesus se mense. Ek bedoel daai mense van lank gelede en ver weg. Ek bedoel ook ek, hier en nou. Die ooglopend uiteenlopende goddelike en menslike praat steeds saam deur die Psalms.
“All these psychics and these doctors - they’re all right and they’re all wrong. It’s like trying to make out every word, when you should simply hum along.”
- Taylor Goldsmith, Dawes – A little bit of everything
Antjie Krog sê op ’n keer dat sy as digter enigiets met ’n hoofletter en ’n volpunt wantrou. Mense is nie soos volsinne nie. Wanneer ons die Psalms by Jesus hoor is dit ook net gedeeltelik. Ons, die Psalms en Jesus kry mekaar in die middel van die lewe se sin. Dis die sensitiwiteit van die digter. Ook die opregtheid van die skaapwagter. Die skaapwagter-psalms is nie blink teologie nie. Eerder wakker, wild en wollerig. In die Psalms is daar ’n herder-digter aan die woord aan wie ons geykte godsdienstige etikette nie so maklik plak nie. Ek leer ken vir Jesus ook so. As iemand wat my veilige embleme se gom laat lostrek.
Die woord soothe se wortels lê in “truth”. Soos wanneer dit wat pla my met rus kan laat, want ek weet wat is waar. Dis hoe waarsêers mense gerusstel oor die verlede of die toekoms wat buite hulle bereik is. Die herder-digter se waarheid kom na dit wat binne bereik is. My ware menslikheid. Wat beteken dit as ek my wil skaar by Jesus die herder-digter? Dit klink vir my soos ’n plat op die aarde Psalm:
ek wat uiteenlopend is
word een van sy kudde
met my lyf en my lewe
my trane en my gebede
my blink kant
my wollerige dele
saam met alles
en almal
wat ek nooit self
bymekaar sou sit nie
nie met die rymdwang
wat ek so goed ken nie
nie in volsinne nie
maar met sy sin vir die digterlike
- Deon Meiring