top of page

Praat deur Mure: Haastige Hond



Die gesegde “Haastige hond verbrand sy mond” het jy seker al ‘n paar keer gehoor, en ook beleef! Dit vat nie veel voordat passie en honger ons logika oorskei nie. Ons kan leer by mense in die Bybel wat ook hiermee geskukkel het. Abraham kan nie wag vir sy vrou om swanger te word nie, en verwek ‘n kind by ‘n slavin. Die gevolg is families wat verjaag en opgeskeur word. Israel raak ongeduldig omdat Moses te lank op die berg bly nie, en bou ‘n goue kalf. Die lys is baie lank…

 

Ongeduld is die verplasing van geloof in ‘n afgod.

 

Lees gerus Prof. Alan Kreider se werk, The Patient Ferment of the Early Church. Die kerk het nie gegroei met ons hedendaagse evangelisasie aanslae wat jy op TV en in vol stadions sien nie. Bitter min apostels was sendelinge, en Paulus se werk is gerig aan huis gemeentes. Hulle was nie haastig met die groot opdrag nie, omdat hulle geglo het God self doen die sending. Hulle byeenkomste was geslote en nie oop vir die publiek nie. Lees gerus die merkwaardige manier van leef en hoe buitestaanders wel tot geloof gekom het. Hulle het ‘n verleentheid vir die Romeine geword, in Alan se woorde: “they wear their opressors out with patience,” wat geduld verag het, en geglo het dit hoort by slawe. Die grootste deug wat ‘n Christen kon hê was om te kon wag en geduldig te wees. Hulle het geglo dat Jesus gekom het om jou geloof te verryk deur jou geduld te leer.

 

Ons glo eerder dat Jesus gekom het om al die struikelblokke wat ons ongeduldig maak uit die weg te ruim. Ons soek ook eerder ‘n God wat van die kruis kan afklim en wys dat hy bonatuurlike magte het. Ons soek nie ‘n God wat jy in raaisels hoef te kyk nie, of trane eendag gaan afvee of moet wag tot aan die voleinding van die wêreld nie.

 

Ons gesels Sondag oor hoe ons by God kan leer omdat Hy “jammer vir mense en geduldig is met hulle” Ex 34: 6.  Wanneer ons kan terugkeer na wie ons werklik is, en hoe ons gemaak is sal ons die gawe van Geduld kan leef. Die skepping is geduldig. Alles moet wag. Die berge is gevorm deur eeue. ‘n Vrou wat swanger is moet 9 maande wag. Saad moet eers ontkiem, en groei voordat dit vrug kan dra. God is vining maar ook baie stadig en ‘n dag kan ‘n duisend jaar word by Hom (2 Pet 3:8).

 

Jy kan binne die heilige fermentering van geduld die waarde en gawe van ware geloof ervaar.

 

But let patience have her perfect (complete) work, that you may be perfect and entire (fully developed), wanting nothing”. (James 1:4)





Deur Theo Geyser

bottom of page