Grendelam aan't fynkam: Hokke en sleutels


Ons eindig Sondag ons reeks oor Nehemia, maar ek wil eers ompaaie vat na ander priesters en profete: Jeanne Goosen, wat my dikwels geleer leef het deur haar woorde, is hierdie week oorlede en sy't by geleentheid gesê: "Almal is te bleddie reg in hulle koppe, man." Nou, of sy bedoel het die wêreld het meer waansinniges, meer mal mense, nodig, dit weet ek nie. Miskien. Maar ek vermoed sy't definitief geïmpliseer dat een van die mensdom se groot dilemmas is dat ons te bleddie "reg" is in ons eie koppe. Te vas in ons idees en ideologieë van wat reg is en wat nie. Party mense sal eerder sterf as om verkeerd te wees. Eerder ten gronde gaan as om te verander.

Woody Allen het iewers in 'n film iets in dier voege gesê: "It reminds me of that old joke - you know, a guy walks into a psychiatrist's office and says, hey doc, my brother's crazy! He thinks he's a chicken. Then the doc says, why don't you turn him in? Then the guy says, I would, but I need the eggs."

En dan na Hafiz:


The small woman Builds cages for everyone she knows. While the sage, Who has to duck her head When the moon is low, Keeps dropping keys all night long For the Beautiful Rowdy Prisoners.

Die meeste van ons spandeer baie ure van die dag om hokke te bou vir die mense rondom ons. Dit word gedoen deur mense te laat klein voel sodat ons kleinlikes kan groter voel. Hokbou is om jouself jou belange te verdedig, om jouself te laat goed lyk, veilig te laat voel, krediet te vat en die skuld op ander te pak. Meestal om die koninkryk van My te bedink. Sleutels laat val, aan die ander kant, is om ander op te bou, ander te laat leef, om die spreekwoordelike pastei groter te maak, dit gaan oor bemagtiging en moontlikhede.


“The arc of the moral universe is long, but it bends towards justice.” het Martin Luther King Jr gesê.


Dit lyk nie so nie. Nie op die oomblik nie. Maar dit het ook nie vir Salomo so gelyk nie:


"As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die land - verwonder jou nie oor die saak nie, want 'n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle. Maar 'n voordeel vir 'n land onder alles is dit: 'n koning wat aan die landbou diensbaar word." Pred. 5:7-10


So tydloos dat dit klink soos iets wat in 2020 geskryf is.


Wat motiveer mense - nie net die mense daar buite, of politici, of die Amerikaners nie - mense, soos ek en jy, Christene ... wat motiveer ons om onregverdig op te tree, of eerder om so op te tree dat geregtigheid nie geskied nie? Ten spyte van die feit dat die Woord en Christus in geen onsekere taal uitlig dat geregtigheid ons bestemming bepaal.


Miskien een van die duidelikste in 1 Johannes 3:


"Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid."


Johannes gee leiding aan die kerk oor hoe om getroue volgers van God se liefde te wees in persoonlike en praktiese terme. Om nuwe gewoontes van vrygewigheid te kweek in ons daaglikse onderonsies met ons bure, staan in die middel van ons geloof en die uitdrukking daarvan. Om jouself 'n Christen te wil noem sonder hierdie dissipline is useless. God roep ons daartoe. Maar geregtigheid eindig nie daar nie: Liefde eindig nie daar nie.


Whatever it is that keeps widening your heart, that’s not only the power inside you but the love. And when you get down to it, that’s the only grand purpose grand enough for a human life. Not just to love – but to persist in love.


Sue Monk Kidd