top of page

Hou jou in?

  • 8 minutes ago
  • 3 min read

Een van my vriende sê op ’n keer: “I am in this T-shirt, but not of this T-shirt.” As ek reg onthou, is dit omdat sy T-hemp natgesweet was en hy nie daarmee wou assosieer nie. Dis ’n sinspeling op die frase: “In hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie” wat kom uit Johannes 17:


15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Joh:17:15-17 (1953 Vertaling)


Lent, wat nou Woensdag begin, word dikwels gesien as ’n tyd om jou in te hou. Met ’n woord soos “Bose” beteken dit dalk: Hou jou in om jou uit die kwaad te hou? Dis hoe ’n vel ook soms beskryf word: Dit wat jou binnegoed inhou. As ek vel in die spel het, is die idee van Lent dan om my vel bietjie mooier toe te rits? Sodat die spel, of die wêreld, buite kan bly? ’n Vel het tog ’n buitekant ook. Dis juis waarmee ek aan die wêreld raak en waar ek ook aangeraak word. So is Lent se inhou, onthou. Dit waarvan ek my onthou, help my om te onthou dat ek nie onaangeraak oor die wêreld sweef nie. Ja, Lent het te doen met Jesus se tyd in die woestyn, maar ek kry hierdie aanhaling van Debie Thomas in Carel Anthonissen se Stil-Weg:


”…we live in a chaotic, fragile and broken world that includes deserts.”


Die woestyn hou ons nie weg van dit wat chaoties en breekbaar is nie. Dit help ons om dit weer aan ons lyf, teen ons vel te voel.


“It is only by living completely in this world that one learns to have faith…. By this-worldliness I mean living unreservedly in life's duties, problems, successes, experiences and perplexities.“ – Dietrich Bonhoeffer



Tydens Lent maak ons opofferings om te onthou dat dit wat ons dikwels beleef as ons oorwinnings nie die volle prentjie is nie. Lent se naam het te make met lengte. In die Noordelike halfrond is die lente op pad. Dae word langer. Alhoewel die dae eintlik hier by ons aan die verkort is, kan dit wat ons opoffer in Lent dalk ook ons dae laat langer voel. Tog is lente ook vernuwing.


Daarom gee ons nie iets op in Lent om die afstand tussen ons en die buitewêreld te verleng nie. Lent bring my nader. Dit trek lengtelyne en breedtelyne wat wys: nét hier waar ek is kan dit ook nuut wees.


”The shortest route from wonder to wonder is loss.“ – Richard Kearny


Die woord wat ons hier in Johannes lees as “wêreld” is vertaal van “kosmos”. Dit vel nie noodwendig ’n oordeel oor die wêreld as goed of sleg nie. Tog vra Jesus hier dat sy mense bewaar word van die Bose. Daai woord roep dalk maklik beelde op van “jy weet wie” (nie Voldemort nie, maar amper). In die Grieks is dit ’n woord wat eintlik nader is aan onder ander iets soos “swoeg”. Soos om te swoeg om jou waarde in hierdie wêreld te bewys. Dis hoekom selfs goeie koffie of lekker sjokolade ’n gewilde ding is om op te gee in Lent. Dit gaan nie bloot oor “bose dinge” of ’n bose figuur nie. Dit gaan om enigiets wat ons laat gryp na dit wat ons meer waardig laat voel. Omdat dit so maklik is om te vergeet dat ons reeds waardig genoeg is.


Dit is die inhou wat ons in die wêreld hou. Op so ’n manier dat dit ons bewaar van dit wat die lewe en die gewone net in ’n geswoeg of gejaag na wind laat ontaard.


Ja, ons onthou in Lent dat ons, en ons wêrelde wat so maklik krimp, stoflik is. Tog sê Jesus hier dat die stoflike ook geheilig kan word. Deur waarheid. Wat is dit? Vra Pontius Pilatus mos. Jesus, die woord wat vlees word, soos wat Johannes begin. Nie iewers ver, of met ’n maatstaf buite ons bereik nie. Tussen gewone lengtelyne en breedtelyne. Hier in hierdie gewone kosmos, herinner God in ’n vel, in die stof ons aan gewone, heilige grond.


“If you have an eye for it, the world itself is a sacrament.” – Augustinus


Mag ons Lent ingaan in afwagting om nie te ontsnap uit ons wêreld nie. Eerder om ons hier te hou, sodat ons, vel en al, kan raak aan dit wat heilig is.



- Deur Deon Meiring

bottom of page