top of page

Staal jou! Ek het vrae. Het die reën 'n pa


Sometimes


Sometimes

if you move carefully

through the forest


breathing

like the ones

in the old stories


who could cross

a shimmering bed of dry leaves

without a sound,


you come

to a place

whose only task


is to trouble you

with tiny

but frightening requests


conceived out of nowhere

but in this place

beginning to lead everywhere.


Requests to stop what

you are doing right now,

and


to stop what you

are becoming

while you do it,


questions

that can make

or unmake

a life,


questions

that have patiently

waited for you,


questions

that have no right

to go away.


David Whyte



Vrae wat ‘n lewe kan maak of breek, vrae wat geduldig op jou gewag het, vrae wat geen reg het om te verdwyn nie. 


Vrae is lewendig. Vra is vry. Vrae bring mens in beroering terwyl antwoorde jou dikwels begrawe. Vrae vra, “Het jy regtig vel in die spel?” Want in die teenwoordigheid van ‘n vraag kan jy dink, voel, stoei, bloei, bewe, lewe. Vrae laat elke senuwee in jou lyf op aandag staan. Vrae maak ons kwesbaar, terwyl antwoorde die illusie van veiligheid skep. Vraagtekens is rekmerke. Dit word in die liggaam ervaar – as ‘n knop in die maag, vlinders op die krop, ‘n swaar bors, trane, of nuwe moontlikhede in die keel. Antwoorde bly dikwels in die kop.


David Whyte praat so tydens ‘n onderhoud: John O’ Donohue used to talk about how you shaped a more beautiful mind; that it’s an actual discipline, no matter what circumstances you’re in. The way I interpreted it was the discipline of asking beautiful questions and that a beautiful question shapes a beautiful mind. And so the ability to ask beautiful questions — often in very un-beautiful moments — is one of the great disciplines of a human life. And a beautiful question starts to shape your identity as much by asking it as it does by having it answered. And you don’t have to do anything about it, you just have to keep asking. And before you know it, you will find yourself actually shaping a different life, meeting different people, finding conversations that are leading you in those directions that you wouldn’t even have seen before.


Op haar sterfbed, so word vertel, het Gertrude Stein die volgende vraag gevra:  “Wat is die antwoord?”  Toe, na ‘n lang stilte, “Wat is die vraag?” …


Moenie begin deur in die Bybel te soek vir die antwoorde wat dit gee nie. Begin deur te luister na die vrae wat gevra word. Daar is miskien geen groter rede om die Bybel te lees nie as juis dit:  iewers tussen al daai dun blaadjies wag ‘n vraag op elke leser. Die een vraag waarvoor hy hom dalk jare lank al doof hou. Die een vraag wat die sentrale vraag van haar hele lewe mag wees.



“It’s a really radical thing to say, ‘What questions am I carrying in my own body and are they actually my own? Or were they fired into my body by my parents? Did they (my parents / educational system / society) elicit my questions from me, or did they impose their questions upon me? Did they encourage me to ask my own pilgrim question? A question is a gravitational path that is leading you to the horizon, both outward and inward. Were you ever given time (unbullied, uncoerced) to ask yourself what your own damn beautiful question was, irrespective of others? Perhaps the best education of all.’


David Whyte



Ek smeek jou … om geduld te hê met alles wat onopgelos in jou hart lê. Om die vrae lief te hê asof hulle geheime kamers is, of boeke geskryf in vreemde tale. Moenie soek vir die antwoorde wat nie nou vir jou gegee kan word nie – jy sal in elk geval nie weet hoe om hulle nou te leef nie. En dis juis die punt – om alles ten volle te leef, te beleef, te deurleef. Leef nou die vrae. Miskien, op ‘n dag in die toekoms, sal jy dan stil-stil, onopgemerk, sonder dat jy eers agterkom, jou pad in die antwoord in leef.


Rainer Maria Rilke



Die woord “question” kom van die Latynse woord quaerere (om te soek, te vra, ondersoek in te stel). Dit het natuurlik ook dieselfde wortel as “quest” en vrae is kragtige bondgenote op ‘n geestelike reis. Dit strek ons denke, liggaam, siel en vel wyer oop. Dit laat ‘n mens anders kyk, mits jy die vraag kans gee om vraag te wees, voor dit antwoord word.


Hier’s ‘n aanhaling wat my een dag verlede week in my spore gestuit het:


“The task of the right eye is to peer into the telescope, 

while the left eye peers into the microscope.”

Leonora Carrington



Ons dink dikwels ons grootste probleem is dat ons nie genoeg weet nie. Meeste van die tyd is dit egter eerder so: ons weet nie met genoeg van ons nie. Ons kyk net op een manier. Cynthia Bourgeault sê dit so: “Wisdom is not knowing more. Wisdom is knowing with more of you.” Jy sal dit seker ook raaksien dat daar in meeste “gebalanseerde” verhoudings of huwelike een persoon is wat graagter deur ‘n teleskoop kyk en ‘n ander wat meer kere die mikroskoop inspan. Die een kan nie sonder die ander nie.


Om Carrington se metafoor verder in te span: Die een oog kyk wyd, sien die groot prentjie, probeer sin vind (in byvoorbeeld pyn) in ‘n kosmiese konteks. Die ander oog kyk fyn, sien die details, gaan persoonlik om met wat voor hom is (byvoorbeeld ‘n wond).



Een van die mees aardskuddende hoofstukke in die Bybel, vir my altans, is Job 38. Deur die hele boek sien ons hoe Job God konfronteer, die juiste ding wat baie van ons geleer is om ten alle koste te vermy. Ons noem dit trouens godslastering. “God is die antwoord. Moenie vrae vra nie.” Maar Job skree op God, beskuldig God, praat selfs sarkasties en sê hy wil niks meer met God te doen hê nie. Die soort gebed wat net gebid kan word as die bidder ‘n diep ervaring het van God se nabyheid. ‘n Mens kan net so bid as jy op ‘n intieme vlak verseker is van die wesenlike verbintenis (verbond) tussen jou en God. Die arena wat ons soms beskryf as die plek waar engele te bang is om te loop. Job beroep hom óp God téén God. 


En dan, na wat voel soos ‘n ewigheid van God se stilte, praat God. Die Godsrede (Job 38-41) vorm die klimaks van hierdie stuk Hebreeuse poësie. 'n Mens sou verwag dat God op hierdie stadium aan Job 'n rits verklarings sou gee vir sy lyding. Dit gebeur egter nie. God antwoord Job se aanklaende vrae met 'n stortvloed van meer as 80 retoriese wedervrae waarvan een is:


Waar was jy toe Ek die fondasies van die aarde gelê het?



God begin as’t ware Sy antwoord – wat bestaan uit vrae – in die stormwind met die opening, “Staal jou! Ek sal die vrae stel, en dan antwoord jy My.” Die ou vertaling sê, “Gord dan soos 'n man jou heupe…” maar ek weet darem nie of God sulke argaïese drilsersanttaal sou gebruik nie, het julle al gesien hoe kan ‘n vrou haar heupe gord?


Dan neem God Job op ‘n virtuele toer deur die kosmos (span sy regteroog in) – ‘n komplekse, wye, woeste plek wat nie swart en wit is nie, maar waarvan Hy sy oog op elke detail het (die linkeroog word nie toegeknyp nie). En dan sê God Job was reg. Nie sy aannames nie, nie sy logika nie, nie sy dinkwerk nie; sy gebed. Om te stry en te worstel met God en te vertrou dat God weet wat om met ons eerlikheid en rou te doen. Dat God sien dat Job werklik vel in die spel het.


En dis hier waar ek begin wonder het of die teleskoop en die mikroskoop al is wat nodig is. Is daar nie dalk ‘n “derde ding” (volgens die Reël van Drie) nie? ‘n Derde weg wat nie dit-of-dat is nie, maar beide/en … en dan nog (met meer van my) …


Wat van ‘n stetoskoop? ‘n Borskas-ondersoek … ‘n luister-instrument …



Ek het meer as vyftien jaar terug ‘n song geskryf waarin die liriek so gelui het:

Bring jou mikroskoop, jou teleskoop, jou stetoskoop en als wat jy moes koop om seker te wees / Maar maak gereed vir minder verstaan as wat jy nou verstaan / Naskrif: kom kaalvoet aan. / Want jy sal moet luister deur die sole van jou voete / Daai's die one-and-only GPS vir hierdie roete …


So, in teenstelling met Job se vriende wat net die groot prentjie (probeer) sien en die wond voor hulle mis – teleskoop-oog – en Job wat net sy liggaam en sy pyn en sy rou ervaring van God se afwesigheid sien – mikroskoop-oog, gee God nie ‘n verduideliking nie; Hy verander Job se blik. God ontken nooit Job se pyn nie, maar deurspoel dit met ‘n groter werklikheid. God antwoord nie al Job se “hoekoms” nie, maar nooi Job om anders te kyk. ‘n Geloof wat met albei oë kyk het nie net groot idees oor God nie, maar dit gaan ook nie net oor my eie ervaring nie. Dis om met een oog die misterie raak te sien en met die ander die traan op my wang. Ek ontken nie my pyn nie, maar word ook nie daardeur ingesluk nie. Vrae hou albei ons oë oop en ons liggame betrokke. 



Een van die mooiste vrae in hierdie Godsrede kom voor in Job 38:28: “Het die reën ‘n vader?” Dis nie ‘n vraag vir Job se kop nie, maar vir sy lyf, sy verbeelding, sy hart. En bietjie later: “Kan jy met die wolke praat sodat hulle begin reën? Kan jy weerligstrale maak, en dit laat tref soos jy wil? Wie gee intuïsie en instink aan die mens? Wie is slim genoeg om die wolke te tel? Wie kan die waterkanne van die hemel omkeer wanneer die grond droog is en die kluite kliphard?”


Reën … wat nie beheer kan word nie, nie beveel kan word nie, nie verdien kan word nie, nie verduidelik kan word nie; net ontvang kan word. Reën wat ons herinner dat ons nie van verklarings leef nie, maar van gawes. Dat geloof nie ‘n verduideliking (vang) van God is nie, maar ‘n ont-vang van God.


Die mikroskoop ontleed pyn, benoem simptome en sê wat fout is (soms baie belangrik). Die teleskoop plaas pyn in ‘n groter konteks en sê waar dit inpas (ook baie belangrik). Die stetoskoop, wat God hier inspan, gaan oor meer as kyk. Dis ‘n instrument vir luister. Dit werk net as jy naby genoeg kom, eers stil genoeg raak, eers lank genoeg nie praat nie. Jy kan dit nie gebruik as jy argumenteer, verklaar of diagnoseer uit die verte nie. Dit vra teenwoordigheid, nie interpretasie nie. Dit luister na die lewe, dit hoor of daar asem is en wat die aard van die asem is.



Wat ‘n wonderlike model van heling hou God nie hier aan ons voor nie. Wanneer iemand in pyn is, moenie dadelik die mikroskoop of teleskoop uitruk nie. Sit eers jou stetoskoop aan. Luister na die stem, die asem, die stilte.


Die mikroskoop vra “Wat gebeur hier?”. Die grootste gevaar hier is reduksie en die  gawe is eerlikheid. Die teleskoop vra “Waar pas dit in?” Die grootste gevaar is abstraksie en die gawe wat dit bring is hoop. Die stetoskoop vra, “Is daar lewe?” Die grootste “gevaar” is ongemak en die gawe wat dit bring is teenwoordigheid. Soms moet ons fyn kyk – inzoom –om eerlik te wees, soms moet ons wyd kyk – uitzoom –  om nie in wanhoop te verval nie. Die mikroskoop help ons sien, die teleskoop help ons glo, en die stetoskoop help ons om te bly. Om hier te wees. Ek gaan Rob Bell se woorde so bietjie aanpas: 


Because sometimes you need a biologist, and sometimes you need a poet 

and sometimes you need rain

Sometimes you need a scientist, and sometimes you need a song 

and sometimes you need silence …


In Job 42:5 sê Job, “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.” Nie my een oog nie, nie my ander oog nie – my (derde) oog.



- Frieda van den Heever

bottom of page