top of page

God, goed, geld: GELD



Net soos in die tuin van Eden lê daar 'n gevaarlike slang tussen die blare van ons geloof - 'n giftige oortuiging  wat glo dat voorspoed en deug mekaar se skaduwees is, en dat rykdom die hemelse beloning vir 'n skoon gewete en goeie lewe is.



In die film, Soud of Music, trou Maria met ‘n ryk jongman Georg von Trapp en dan sê sy: ‘’Somewhere in my youth I must have done something good”. En dan is daar Job, die man wat alles verloor. Sy vriende kom sit by hom en begin die somme maak. Een sê dit reguit: kyk na jou kinders se dood, kyk na jou ellende - iewers moes jý of húlle iets verkeerd gedoen het.


Dieselfde som, net onderstebo gedraai.


Maria se geluk en Job se smart is nie God se punktekaart nie.  Die reën val immers op regverdiges én onregverdiges, en die son skyn op goeies én slegtes.


As God dan nie 'n puntekaart het nie, wat vra hy dan van die mens? Wat is die maatstaf van moraliteit of ‘n lewe wat God verheerlik? Die storie van die ryk jongman in Luk 18:18-30 leer ons hierdie les. Dit is nie die rykdom nie, nie die besittings nie, maar die aard van die verhouding tot wat ek besit. Wat ek het, en wat ek nie het nie, is net die skaal, die simbool, die masker; dit is die motivering, die beweging wat dit oproep, die manier waarop ek op die wêreld en sy dinge reageer, dit wat ek in my binneste dra, wat die koers bepaal.



Dit gaan oor die gemoed, dit wat ons voel en laat voel, die geheime gewrigte wat die siel draai, wat beweeg, wat oortuig of mislei.



Die ryk jongman se emosionele reaksie op Jesus se woorde vertel 'n dieper verhaal as al sy godsdienstige oortuigings. Kyk hoe hy wegstap - bedroef, swaar, verslae. Hierdie emosies is soos 'n venster wat oopgaan en sy siel se werklike toestand ontbloot.



Die droefheid waarmee hy wegloop is nie die hartseer van iemand wat net 'n moeilike opdrag gekry het nie. Dit is die diep ontsteltenis van iemand wat skielik voor 'n spieël staan en vir die eerste keer sien hoe sy geloof in God met die  god van goud bots.



Elke keer wanneer ons oor geld en God praat sal die ryk jongman sy verskyning in jou hart maak.



"Our relationship with money is a mirror of our deepest values and fears." Parker Palmer



"If money is not transformed by faith, it transforms faith" Richard Rohr



- Theo Geyser

bottom of page