top of page

Gewaarwording: god of God?




Vir die volgende paar weke ruil ons gedagtes oor die woord: gewaarwording. Die afgelope dekade het soortgelyke woorde soos bewuswording, teenwoordig wees, jouself te wees of om mindful te wees algemene spreektaal geword en natuurlik ook ‘n booming ekonomie.

Dit is nie ‘n verrassing nie.

Die onversadigbare stimulering en geraas het ‘n bewese effek op die brein en elke mens voel die nood om na binne te keer en rus te soek. Almal is moeg en oorwerk en het nie tyd nie. Ek is mal oor die woord gewaarwording. Gewaar is wat ons sien en dit is presies wat ons word. “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.“ (Matt. 6:22).

Die ervaring van sien en word in die Bybel gaan nie soseer oor wilskrag of gedagte beheer nie, maar oor ‘n diep ontmoeting met God. Daarom is die woord 'kyk' prominent in enige ontmoeting met God. Ons wil die volgende paar weke hier stilstaan en beter verstaan hoe die teenwoordigheid van God ons help om teenwoordig te wees, vir onsself en ook vir ander.

En presies hier is die probleem.

Hoe is God teenwoordig en presies wat is die teenwoordigheid van God wat ek kan sien en wat my kan transformeer? Eksodus 32 kan ons help om dit beter te verstaan. Moses is op die berg in die teenwoordigheid van God, en Israel raak ongeduldig en bou ‘n goue kalf wat God se teenwoordigheid in hulle lewe kan vervang. Ons doen vandag nog dieselfde. Ons kyk ook eerder na afgode en verwar dit met die teenwoordigheid van God. Johannes gee praktiese raad: "My kinders, bewaar julleself van die afgode." 1 Joh. 5:21

Ons gesels Sondag hoe ek kan sien of dit god of God is wat my lewe vorm.


- Deur Theo Geyser

bottom of page