“We do not attain anything by our own holiness, but by ten thousand surrenders to mercy. A lifetime of received forgiveness allows you to become mercy.”
Richard Rohr
Dit is die saligspreking. Barmhartigheid (soos vergifnis) is, per definisie, onverdiend. Dit kan ook nie geskuld of vereffen word nie. As dit nie beide is nie, sal dit nie ervaar word as barmhartigheid nie. Barmhartigheid en vergifnis is die hele evangelie.
Die Lofsang van Sagaria (Luk.1:68-79) sê jy sal kennis van die saligheid ontvang in die vergifnis van sonde. Geen tit-for-tat, geen oog vir ‘n oog, geen koop en verkoop in die Tempel nie. Die wortelwoord van “mercy” (merc = commerce, merchant) het te make met ‘n ander soort vloei as waaraan die handelaars van die tyd gewoond was.
Jy kan nie barmhartigheid ken voor jy dit werklik nodig gehad het nie. “Mercy within mercy, within mercy.” (Thomas Merton). “Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê, nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” (Matt. 9:13; 12:7). Die woord is hesed in Hebreeus – die standvastige liefde wat onbreekbaar is.
Die Message-vertaling lees so:
You’re blessed when you care. At the moment of being ‘care-full’, you find yourselves cared for.
Coenie Burger skryf so in Vreemde Geluk:
“Die barmhartigheid waarop ons van God se kant reken, kan op geen manier losgemaak word van die barmhartigheid wat ons veronderstel is om aan ander te bewys nie. Dis nie ‘n luukse of ‘n ekstra wat die geloof betref nie. Wie nie barmhartig wil wees nie, verstaan nie die hart van God nie. Dít meer as enigiets anders was wat Jesus teen die Fariseërs gehad het. Terwyl hulle stip en noukeurig was op minder belangrike sake, het hulle dit “wat volgens die wet van God die swaarste weeg” nagelaat: die geregtigheid en die barmhartigheid en die trou (Matt. 23:23).
Om barm-hart-igheid na te laat, is om die hart van die Christendom uit te skeur. Wat dan oorbly, is nuttelose religie.”
Ons gebruik nie dikwels die woord “barmhartig” in ons alledaagse omgangstaal nie. Deborah Steinmair skryf verlede week in Vrye Weekblad dat ons nie regtig ‘n lekker woord in Afrikaans het vir “kindness” nie. Sy stel dan die woord “goeilikheid” voor en sê, “Die wêreldleier-sosiopate se gesigte lyk soos geslypte byle: Putin, Netanyahu en, ja, Trump, wat geweld aanblaas en dan slagoffer speel. Ons het goeilikheid nodig. Dringend.”
Soos Jesus op kragtige wyse oorgedra het met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Ek is seker die priester en die Leviet het albei geldige verskonings gehad hoekom hulle die beroofde, verwonde man net daar langs die pad gelaat het en anderkant verbygeloop het. Hulle het “belangriker”, “heiliger” werk gehad om in die tempel te gaan doen. Vir God. Mens kon nie hierdie werk doen as jy onrein was (lees: blootgestel aan die dood) nie. Wat nog te sê laat! En toe kom daar iemand verby wat ook op pad iewers heen was. Hy het ook ‘n agenda gehad. Maar toe hy die man in nood sien, stop hy omdat sy ingewande geroer is, omdat hy hom innig jammer gekry het, omdat hy hom as ‘n vriend of ‘n broer gesien het. Sy agenda verander daar en dan. Iemand anders se nood voor sy eie brood.
Vir die Jode bestaan “barmhartigheid” uit twee aspekte: geregtigheid en dade van liefhebbende vriendskap. As ons gaan kyk na die Hebreeuse oorsprong, strek dit eintlik nog veel verder. Die betekenis van “om barmhartigheid te betoon” (rehem) en “baarmoeder” (raham) is baie nou verbonde. Om soos ‘n moeder haar ongebore kind liefhet, lief te hê. Haarself weerhou van sekere goed, nie om beter te voel oor haarself nie, maar omdat sy met diep deernis vervul is. Om meer te rus, sodat haar fetus in ‘n rustige omgewing kan groei. Om deur fisiese ongemak en pyn te gaan om nuwe lewe moontlik te maak. Om vir iemand anders om te gee sonder voorbehoud, sonder om iets terug te verwag, sonder om veel kennis te dra van sy geskiedenis, sy geloofsoortuigings, sy gebreke.
Iemand skryf by die sterfbed van sy jong seun: “Nou begryp ek, Christus, nou begryp ek uiteindelik iets van die kruis: ek moet die hele wêreld liefhê asof hulle my eie vlees en bloed is. Elke mens, soos my eie kind!”
In ‘n Afrika-konteks: om Ubuntu, as woord, binne-in jou te voel vlees kry. Om van die Self na die Ander uit te reik en te vind julle is die-SELF-de, EEN-ders. Dat ek is omdat ons is. Om, soos die Here, “iemand se lyding ter harte te neem” (Eks. 3:7) en toe te laat dat dit jou dade word. Medelye in aksie.
Dan word liefdadigheid nie meer ‘n blote agenda, of iets wat op jou firma se cv staan vir belastingdoeleindes nie. Dit word ‘n leefwyse. Wie jy is word wat jy doen. Dade van liefde. Daar is geen ware menswees – geen ware Christenwees – buite die werklikheid van die wêreld nie en geen ware werklikheid buite die werklikheid van die Mens – Christus – nie.
In Dietrich Bonhoeffer se woorde: “Compassion is to have an irresistible love for the down-trodden, the sick, the wretched, the wronged, the outcast and all who are tortured with anxiety.”
“Medelye is nie ’n opsie nie – dit is die sleutel vir ons oorlewing.”
Dít staan onder meer in ’n e-posboodskap van Karen Armstrong, een van ons tyd se bekendste populêre skrywers oor die mens se soeke na sin. Gaan lees gerus die “Handves vir Erbarming” (‘n ander woord vir barmhartigheid) – die hoeksteen vir wat sy as ’n regverdige ekonomie en vreedsame wêreld sien.
Daar is ‘n woord in grieks wat dikwels in die Evangelies gebruik is om Jesus se diep medelye met mense in nood uit te druk: splagnitsomai. Mens kan byna die maagdraai-gevoel in die woord hoor! Dis ‘n werkwoord wat ‘n roering van die ingewande beteken. As iets jou so diep raak dat dit vir ‘n oomblik jou wind uitslaan, jou beroof van jou asem, jou tegelykertyd tot stilstand bring en “move”. Sodat jy eenvoudig nie anderpad kan vat of dit ignoreer nie.
“’n Mens géé nie omdat jy hoop jy gaan terugontvang nie, maar dis skynbaar ’n wet van die kosmos: Wees oop, gee gehoor aan lukrake impulse van vrygewigheid en barmhartigheid, en ’n vloei van energie word geskep soos skoon, lopende water.”
Deborah Steinmair – Vrye Weekblad
Ek dink as ons gaan begin stories deel oor barmhartigheid wat aan ons bewys is, gaan ons nie kan ophou nie. Ons mag dit nie vergeet nie. Ek deel een van my vele van Maart verlede jaar:
Gister het iemand my soos 'n superhero laat voel. Nie oor iets wat ek reg of goed gedoen het nie, trouens die teenoorgestelde. Ek het drooggemaak. Ek het 'n fout gemaak. Ek was/is so mens soos mens kan wees. Dit het my laat dink aan 'n toespraak wat Antjie Krog jare terug gelewer het met die titel: "African forgiveness - too sophisticated for the West" ... ek kry die volgende whatsapp boodskap van 'n vreemde nommer:
Hi Frieda, I hope you are well and safe ...
I have had and kept a note you put on my car many years ago in my wallet after you reversed and bumped my car outside McDonald's in Bellville.
I was honestly moved by both your honesty and thoughtfulness about the incident. I do not remember calling or texting you back, I just know it was a minor bump that cracked my front grill and number plate.
I message you today solely to wish you a good year ahead and blessings on blessings. I hope you continue to be the Super Human you are unto others and that that is returned twice over in your favour.
We live in a world full of so much hurt and it's small acts of kindness and concern like yours that make it a place worth living in.
THANK YOU
From Azola
Eerste gedagte: wanneer was ek by McDonald's (my kinders smeek my al jare daarvoor en ek weier om die knie te buig)? Tweede een: dis omdat jy so jaagduiwel was in jou vorige lewe, skaam jou man!
Maar toe die woorde van my kop af in my hart in val, besef ek wat Azola my probeer leer. Vir my, wat meestal voel ek kan nie nog een sentimeter verder van superhero af voel as wat ek reeds voel nie (alle enkelouers sal weet). Voeg 'n maagaandoening by die mix en roer.
Miskien is dit so eenvoudig soos dit: Kindness kan nie verdien of terugbetaal word nie.
Dankie, Azola. Getrou aan jou naam het jy vrede en kalmte gebring.
Frieda van den Heever
Comments