top of page

Geringe Helde: Jesus Christus - "Wie sê julle is Ek?"


Jesus is die sentrale figuur in die Westerse samelewing. Of jy nou van Hom hou of nie, of jy nou glo in Hom of nie, of jy nou kerk toe gaan of nie, een ding is seker, Jesus kan nie geignoreer word nie. Die skuif wat Jesus gebring het 2 000 jaar terug was bly steeds die enkele grootste impak wat een persoon op die mensdom en ons gedeelde geskiedenis gehad het. Steeds 2 000 jaar later kan ons nie uitgeskryf, uitgepraat of uitgebaklei raak oor die persoon van Jesus en sy leringe nie.


Jesus bly sentraal radikaal.


Jesus draai dinge op hul kop. Wie eerste is, gaan laaste wees, en laaste eerste. Hy vra, “draai die ander wang, loop die ekstra myl, laat staan die onkruid net so tussen die koring, gee al jou geld weg en volg my.” Hy eet saam met sondaars, prostitute en korrupte staatsamptenare, maar ook saam met godsdienstiges, rykes, vromes, priesters en regsgeleerdes.


Jesus breek die grense van albei kante af.


Jesus maak almal de hel in.


Tog is ons geneig om Jesus maklik te wil maak. Ons teken Hom mooi in kinder bybels en laat hom lyk soos ʼn goeie laerskool meneer. Jesus die kinderoppasser.


Liewe Jesus.


Liewe Jesus is nie altyd so lief nie. Liewe Jesus wat mense met ʼn sweep uit die tempel gehaal het. Liewe Jesus wat mense vervloek het en gesê het hulle is slange, wit grafte en heeltemal vrot van binne. Elke keer wanneer ek liewe Jesus se familie uitsprake lees, soos “haat jou vader en jou moeder”, dan wonder ek altyd oor hoe pas Hy nou in jou standaard familie kerk in? ʼn Liewe Jesus het nie vyande wat planne maak om hom uit te haal nie. ʼn Liewe Jesus word nie tot die dood veroordeel nie. Jesus, daarenteen, sterf die dood van ʼn rebel, dief en verraaier. Ons prentjie van Jesus kort werk. Jesus is meer as liewe Jesus. Sy koninkryk is anders as die wêreld wat ons ken, dit is vir ons vreemd en soms ontstellend. Jesus is baie dinge, maar gemaklik, glad nie.


Die woord radikaal se oorsprong is juis dit, oorsprong. Radikaal verwys na die wortel, die begin van die plant, die oorspronklike motivering. Om te sê Jesus was, of is, radikaal, is om te verwys – nie na sy nuwe idees nie – maar eerder na die manier hoe Hy ons na die oorsprong terugbring, na God se oorspronklike bedoeling met die skepping en met my en jou, met ons.


Kom kuier gerus saam Sondagaand by Invia Kaapstad, 17:00 by 2 Derry rd, Rondebosch (Die NGK Rondebosch se gebou).

bottom of page