top of page

Enneagram 2.0 – Hoë-Definisie met Sterk Resolusie




’n Mens moet lééf met die Enneagram. Wérk daarmee. Dis meer as net inligting — dis insig tot diep binne-in die ego se bewegende dele, meganismes en dryfvere.


Wanneer ons die 27 subtipes bespreek, trek ons die werkslig nader, stof die vergrootglas af, en bekyk die hele stelsel in baie meer detail. En dis júís die ding: die detail.


Die subtipe ontstaan waar die “sonde” met die “instink” oorvleuel. Byvoorbeeld: waar ’n Tipe 5 se drif van “gierigheid” saamval met die instink van selfbehoud (selfpreservation), noem ons daardie kombinasie die “Kasteel.” Want ’n kasteel is ’n plek waar hulle kan terugval na ’n veilige spasie — ’n wêreld wat hulle só ingerig het dat alles wat hulle nodig het daar is, sodat hulle nie hóéf uit te gaan nie.


Óf, waar die drif van woede in die Tipe 1 oorvleuel met die seksuele (een-tot-een) instink, noem ons daardie tipe ‘Zeal’. Hulle het ‘n intense dringendheid om die wêreld (en mense om hulle) te wil verbeter. 


Interessant dat daar vir elk van die 9 Enneagram tipes, drie weergawes bestaan - selfbehoud, sosiaal en een-tot-een. Dis hoekom daar eintlik 27 tipes is. 


Gepraat van 3 - hier is drie goeie redes om die subtipes beter te verstaan:


1. Jy verstaan nou hoekom jy só verskil van mense met dieselfde tipe as jy.

Baie mense doen die Enneagram en voel aanvanklik verlig — en dan verward: “Ek is 'n Tipe 6, maar ek klink glad nie soos daardie ander 6 nie.”

Die subtipes wys jou waarom jou tipe in die praktyk só anders lyk, afhangende van jou oorheersende instink. Dit bring helderheid en verlig die verwarring.


2. Jy begin raaksien hoe jou instink jou groeipad saboteer — of ondersteun.

Dis een ding om jou tipe se “sonde” te verstaan. Dis iets anders om te besef dat jou instink jou outomaties in rigtings stuur waar jy jou vasloop teen groei.

Subtipes help jou om die ‘auto-pilot’ van jou instink raak te sien — en dit is van onskatbare waarde as jy meer vryheid en opsies in jou reaksies wil hê.


3. Jy leer hoe ander mense jou beleef — nie net wie jy dink jy is nie.

Die subtipes wys hoe sekere gedragsneigings wat jy as “natuurlik” of “onskuldig” ervaar, by ander oor kan kom as teruggetrokkenheid, oorheersing of selfs manipulasie.

Jy ontwikkel dus nie net selfkennis nie, maar interpersoonlike insig — wat jou verhoudings, jou konflikhantering en jou empatie verdiep.



Melissa het dit só beskryf:


Om die Enneagram-subtipes te ontdek, was een van die grootste geskenke op my reis. Al het ek reeds my nommer geïdentifiseer en daarmee saamgestem, was daar steeds iets wat nie heeltemal reg gevoel het nie—dit was asof ek nooit heeltemal kon rus vind daarin nie. Om die subtipes te leer ken, was ’n ware “aha”-oomblik. Dit het vir my die genade gebring waarna ek so lank gesmag het—daardie legkaartstukkie wat my in staat gestel het om myself met meer deernis te sien. Om te ontdek dat ek ’n sosiale subtype Twee is, het ’n nuwe vlak van helderheid gebring.” 




Subtipes wys jou nie net hoe jy funksioneer nie, maar ook hoekom. Dis juis die  verstaan van die “hoekom” wat so diepe transformasie bring.



As jy voel jy staan op ’n nuwe drumpel en is gereed om meer te leer, dan is hierdie volgende stap dalk nét wat jy soek.


Hierdie werkswinkel word slegs een keer per jaar aangebied.


Wanneer:

7 Junie 2025 | 08:30 – 16:30


Waar:

Heilsaam


Koste:

R1450 pp


Klik hier om te registreer:






Ennea-groete

Lukie

bottom of page