top of page

Ek het hoop ... dat ek weer vrede sal ervaar



Ek het besef dat ek nie hoop en vrede in dieselfde sin verwag het nie. Tot my skaamte, het dit vir my twee onversoenbare begrippe geword. Ek moes die volgende reeds diep gesetelde gedagtegang aan die kaak stel: Ek moet ophou hoop sodat ek die vrede kan bewaar. Ek sal nooit weer uitsien na iets of verwagtinge koester nie en dít sal dinge rustig hou. Ek moet niks meer vir die kinders sê oor enigiets wat gaan gebeur nie - nie play dates nie, nie partytjies nie, niks. Nie in vandag se tyd nie, hulle gaan net hulle hoop opkry en dan heel moontlik teleurgestel word. 'n Soort gelate aanvaarding wat nooit te wild of stormagtig sal kan raak nie.


En toe moes ek myself afvra: wat is hoop vir my? Want dit kan nie die hoop wees wat in Hebreërs beskryf word nie... "Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding."

En wat is vrede vir my? Die soort vrede wat Jesus só beskryf? "Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee ek aan julle; nie soos die wêreld gee nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie." Die vrede wat alle verstand te bowe gaan en my hart en my sinne sal bewaar in Christus Jesus of 'n vals soort lewelose, passielose gelatenheid ... 'n Que Será, Será op steroids én kalmeerpille.


Ons verhouding met hoop verander soos ons ouer word. As ek terugdink aan Kerstyd toe ek 'n kind was, onthou ek die suiwer opgewondenheid, hoe my hart gedans het oor die vooruitsig van die boom en liggies, hoe my mond gewater het vir die een-keer-'n-jaar gevulde eiers, hoe my kop skoon lig gevoel het van al die moontlikhede en presente.

Die hoop van Kersfees was tasbaar en goed. Wie sou ooit kon dink dat hierdie gevoel sou taan? Dat ek eens op 'n jaar Kersfees sou vrees? Dat die té mooi te seer gaan maak?


Miskien het ons ervarings van teleurstelling en sinisme al so opgehoop dat ons as volwassenes dit moelik vind om ons hoop op enigiets te plaas. Te lank gewag, dinge het nie uitgewerk soos ek gewens het dit sou nie, een keer te veel seergekry - al hierdie goed bou 'n dik muur rondom ons hunkeringe. Iemand het een keer gesê: Somtyds voel hoop minder soos goedheid en meer soos gevaar.

Met Advent, gaan ons 'n seisoen van hoop in. Of ons probeer ten minste. Om te hoop is weerloos. En waaghalsig. Dis oorgegee. Hoop forseer ons om dit wat ons glo oor God in die gesig te staar. Glo ons Hy is goed, ongeag ons omstandighede? Glo ons Hy is aan die werk al is die wêreld in chaos gedompel? Glo ons dat Hy werklik omgee oor ons diepste hunkeringe? Want die mees vreesaanjaende goed om oor te bid is nie my vrese nie; dis my versugtinge.

... wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.


Hoop en vrede ... nie óp iets nie, ín Iemand. En dit is iets wat net ons siele werklik begryp. Mag jy hierdie Advent weer waag om te hoop, om daardie risiko te neem. Om jou vals kalmte op te gee vir ware vrede. Mag jy, soos Job, op die as-hoop, vandag hoor:


"As jy jou hart berei en jou hande uitbrei na hom ... dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees. Ja, jy sal die moeite vergeet; soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink. En helderder as die middag, sal die lewe oprys; is dit donker - dit sal wees soos die môre! En jy sal vertrou, want daar is verwagting; en kyk jy rond - jy sal in vrede gaan slaap."

Job. 11:13-18


- Deur Frieda van den Heever





bottom of page