top of page

Ek het gewonder: Waarom is God weggesteek?


Waarom is God weggesteek? Hoekom kan ons hom nie duidelik sien en verstaan nie? Waarom ‘n spieël in ‘n raaisel? Moet ons dan altyd wonder wie Hy werklik is?

Moses het nie van die idee gehou dat God weggesteek is nie. Alhoewel sy verhouding met God in terme van 'n intieme vriendskap gedefineer word (Ex 33:11) is hy nie tevrede nie. Hy wil God sien, en God stel dit duidelik dat “ geen mens kan sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). Hierdie tema loop dan regdeur die Bybel. God is in die Braambos, wolk- en vuurkolom, die tempel en die ark maar niemand kan Hom sien nie. Sy verskyning in 'n mens kan ook nie gesien word nie. Hy is weggesteek in 'n vuil krip, en eindig aan 'n kruis omdat God in 'n brose mens weggesteek is.

God is weggesteek omdat Hy nie in dieselfde orde van die skepping bestaan nie. Hy is immers die Skepper en staan ook buite en bo die skepping. Hy is die “enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie “ (1 Tim 6:15-16). As God nie weggsteek is nie, kan hy homself nie openbaar nie. God kan Hom net openbaar omdat Hy weggesteek is. Teenwoordigheid en afwesigheid is een muntstuk. Indien God hom nie openbaar en nie nie wys nie, sal mense hom nooit kan vind nie. Indien God te veel wys sal mense hom vind teen hulle wil. God respekteer die vryheid en wil van enige mens.

Ons gesels Sondag oor Johannes 3 wat hierdie moeilike paradoks aanspreek. Nikodemus het dieselfde probleem as Moses. Hy word nou voorgestel aan die versteekte God. Jesus noem hierdie ervaring wedergeboorte of om van “bo gebore” te word. Dit het niks te doen met ‘n meganiese transaksie van die “born again”- beweging wat in die 70’tigs ontstaan het nie. Dit het alles te doen met ‘n kragtige wind wat jou voorstel aan God en jy kan dalk die geluid hoor, “maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.” (Joh 3:8).


- Deur Theo Geyser

bottom of page