Mense is obsessief oor planne. Sonder planne, voel ons onseker, deurmekaar, verdwaald, verlore … soos Basjan, toe hy skaars vier jaar oud was, een aand hartverskeurend gil “Mamma! Mamma! Help my!”. Toe ek hom wakker maak uit wat ek dink ‘n vreesaanjaende nagmerrie was en vra wat dan gebeur het, sê hy: “Ek het gedroom ek het niks planne nie. Dit was verskriklik.”
As ek in meer evangelistiese kringe beweeg het, sou ek seker summier vir hom Jer. 29:11 aangehaal het – in Engels, want die Afrikaanse vertaling het nie die woord “planne” in nie. Meeste mense verkies dus die Engels: “‘For I know the plans I have for you,’ declares the Lord, ‘plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future.'” Ook dikwels die oorbekende teks wat op briefies en programme geskryf word as iemand graad vang, nie ‘n clue het wat om volgende te doen nie en in vrees en verlamming gedompel word omdat hulle so bang is dat hulle die Here se plan vir hulle lewe sal mis: die verkeerde werksaanbod sal aanvaar, in die verkeerde stad opeindig, (God behoed ons) nie hulle soul mate vind nie en dan opeinding met iemand anders se soul mate wat beteken daardie persoon steel weer nog iemand anders s’n en ‘n hele rampspoedige ketting volg wat die huweliksgeluk van die wêreldpopulasie bedreig.
Daar’s ‘n meganisme wat sy ontstaan gehad het in die Griekse teater. Dis genoem deus ex machina (Latyns vir “god uit die masjien”). Hierdie god sou dan invlieg en die storielyn van die drama omkeer. Die held het uiteraard afgestuur op ‘n ramp (soos dit ‘n goeie tragedie betaam) en net voor die hele storie inmekaarval, swaai die griekse god – letterlik vasgemaak aan ‘n soort hyskraan – daar in en red almal. Al die goeie ouens natuurlik. Geen verdere worsteling of klippe kou of die gevolge van swak keuses in die gesig staar nie. The end.
That was then, this is now. Nou weet ons van beter. Maar weet ons? Baie van ons verwag steeds net van ons god om in te vlieg en ons te red wanneer dinge op ‘n tragedie afstuur. Wanneer ons plannetjies uitwerk, ons in beheer is en die lewe ‘n lied is, is dit heeltemal oukei as hy daar bo in die hyskraan bly sit, selfs aan die slaap raak. Ook as ons hom teleurgestel het en nie sy een doel vir ons gevind het nie. Hy’t mos lank terug reeds sy plan gemaak. Sy werk hier is afgehandel. We’ve got this.
Ek glo ook God het planne vir ons, maar om hierdie vers in te span in diens van ‘n soort welstandsevangelie, is nie een daarvan nie. Hierdie vers was nie geskryf vir individue nie, dit was geskryf vir ‘n volk in ballingskap. In die teksvers net voor hierdie een (wat nie op koffiebekers verskyn nie), profeteer Jeremia dat die volk 70 jaar in Babel gaan wees. Nie ‘n gewilde profesie nie. Nie deel van die Israeliete se plannetjies vir hulle lewens nie. Hulle het eerder die valse profeet Hanánaja se deus ex machina verkies – die god wat sou invlieg na twee jaar, hulle in ‘n oogwink uit ballingskap bevry en oorvloedige rykdom skenk.
God se “plan” – het effe anders gelyk. Meer soos die kern van die drama. Meer soos ‘n droom – te groot vir hulle klein plannetjies: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
Die woord "gedagtes" wat ons dikwels vertaal met planne het egter alles te make met nuwe idees. Uitvindings. Drome. Dis 'n woord wat dui op skepping, herskepping en dat God se sogenaamde planne vir ons nie in graniet gegiet is nie. "Ek KEN die NUWE IDEES wat ek aangaande julle het. Gedagtes van vrede (nie altyd voorspoed nie), ‘n hoopvolle toekoms. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”
What you can plan is too small for you to live. What you can live wholeheartedly will make plans enough for the vitality hidden in your sleep.
To be human is to become visible while carrying what is hidden as a gift to others. To remember the other world in this world is to live in your true inheritance.
David Whyte
As God lankal klaar sy plannetjies gemaak het, hoekom sou ons dan nog na Hom moes soek, vra, bid. Hoekom sou Hy na ons luister? Want die God van Israel se meganisme was nog altyd Liefde. Hy is nie geïnteresseerd daarin om in te vlieg en uit te vlieg nie. Sy plan is ‘n verbond. ‘n Verhouding. Mense wat al meer en meer tot Sy beeld – Liefde – gelyk word tot dit al is wat oorbly. Al wat ons kan erf en al wat ons kan nalaat.
St. Augustine het gesê, “Love God and do whatever you please: for the soul trained in love to God will do nothing to offend the One who is Beloved.”
- Deur Frieda van den Heever