top of page

Drome Oor... Waarskuwings


Kan jy onthou wie is die mense teen wie jou ouers jou gewaarsku het? Ek onthou hulle goed. Dit was die rokers, drinkers en “los-meisies”. Die dominee van die dorp sou ook gereeld in sy preke melding van hierdie verval maak.

Die bedoeling van my ouers en die dominee was sekerlik goed bedoel en dat ek 'n beter mens sou word indien ek sekere mense en gewoontes vermy. Wat egter vir my opvallend was toe ek ouer geword het, was die ontdekking dat Jesus sy volgelinge ook waarsku teen sekere mense - maar nie teen rokers, drinkers en “los meisies” nie, maar teen die godsdienstige mense!


Die rede: Selfregverdiging.

Daar is niks so gevaarlik en dodelik nie, as mense wat perfek is, alles weet en wat in die naam van godsdiens selfregverdiging beoefen! Mense wat nie die vermoë het om die ‘drinker, roker, verslaafde, los meisie' of ontrouheid in hulleself raak te sien nie.

Ons gaan die volgende 3 Sondae gesels oor die lewe van Elia. Ons kyk Sondag hoe sy pad na heelheid loop, hoe hy ook leer om sy eie gebrokenheid raak te sien en uit 'n diep afhanklikheid en eenheid met God te leef.

bottom of page