top of page

Die wysheid om goeie keuses te maak


Een van die belangrikste take in ouerskap is om my kinders te leer om selfstandige keuses te maak. Die fyn balans lê daarin om te weet wanneer ek hulle kan toelaat om hulle eie keuses te maak. Soms gebeur dit dat die ouers hulle kinders nie kan vertrou om hulle eie keuses te kan maak nie. Dit lei gewoonlik tot die selfverniettig van selfwaarde en drome omdat kinders dan glo dat hulle nie goed genoeg is om hulle eie besluite te kan maak nie.

Dan word hulle slawe van ander se opinies en oortuigings.

Ons geestelike reis is ook nie anders nie. God wil ons te help om selfstandige keuses te maak. “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees.” Ps 32:8. Soms steun Christene te swaar op die kerk en geestelike leiers, bloot omdat hulle nie weet hoe die Here self die pad wys en raad kan gee nie.

Hierdie raad en wysheid kry jy op die pad wat jy met God loop. Die meeste van ons ken hierdie twee skrifgedeeltes: ‘Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.’ Spr. 16:25. ‘Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.’ Spr. 3:6. Wysheid gaan nie oor intellektuele insigte of ‘n dieper verstaan van die lewe nie, dit gaan oor ‘n verstaan van hoe God teenwoordig is op hierdie aarde en hoe ek moet lewe. Dit gaan oor die praktiese leef van hierdie komplekse lewe en daarom is die boek Job as wysheidsliteratuur in die Bybel ingesluit.

Dit is ‘n manier van dink en oordink en om soos Jesus te midde van versoeking, verdrukking, blydskap, verdeeldheid en kompleksiteit geloof te hê wat die paradokse kan vashou en God se leiding vertrou. Wat sou die teenoorgestelde wees van wysheid of om dinge nie te oordink, of te koester nie? Dalk om oor te gee aan die oomblik, en dadelik beïndruk te word met ‘n goed verwondering.

Ons het genoeg geestelike rasieleiers.


Wysheid kry jy waar Maria dit gekry het. Sy hardloop nie uit en vertel almal dat sy die Moeder van God is nie. Sy onttrek in stilte en oordink in haar hart wat hierdie woord kon beteken. Ons gesels Sondag oor die wysheid om goeie keuses te maak. Dit is dalk net die ding waarvoor jy al jare wag. Wil jy nie God se raad vertrou nie, dit is die moeite werd…


- Deur Theo Geyser

bottom of page