Ek weet nou nie of ek my kop in skaamte moet laat sak en of ek moet opkyk na die berge nie, maar lirieke kom meld hulself in my gedagtes aan voor Bybelversies. Ek vertrou dan maar dat die manier hoe dit my selle se silinders laat fire ‘n teken van God se teenwoordigheid in my is en dat daar iewers ‘n vers sal wees wat dit bevestig. Of dat die Woord eers was en toe vlees geword het. In elk geval, hierdie afgelope tyd was dit:
Freedom’s just another word for nothing left to lose (Bobby McGee – Kris Kristofferson)
en
Take the shackles off my feet so I can dance
I just wanna praise you, I just wanna praise you …
You broke the chains now I can lift my hands
I just wanna praise you, I just wanna praise you …
(Mary Mary se groot hit van 2000 waarop gelowiges en ongelowiges saam gedans het in clubs)
Relatief vanselfsprekende songs as mens oor vryheid loop en dink. Maar toe kom klop ‘n ander liedjie aan my skedel:
Jou kombers en my matras en daar lê die ding
en ek kan nie uitfigure waar lê die ding nie, behalwe dat dit iets uit te waai het met die Anglo Boere-oorlog want hulle is besig om te march na Pretôria.
Kom ons los hulle daar, vir nou. Ek bevraagteken die afgelope tyd alles wat ek dink en glo oor vryheid. Ek weet ek het uitgekom met ‘n diep drang daarna. Ek vermoed ons almal het. Ek weet ook dat ek dikwels wil weghardloop van my lewe. Die mure druk my vas, my opsies voel te veel en nie genoeg nie, ek voel ingeperk en wil ontsnap … die woord “Mamma” klink soms vir my soos daai sirenes in die tronkstories wat almal in oranje pakke in rye roep om rys te kom eet. Dan regverdig ek hierdie ontsnappingsplan in die naam van vryheid en my diep hunkering daarna. Ek wil NOU in my kar spring en iewers heen ry, ek wil NOU in die see gaan swem op my eie, ek wil NOU in ‘n club gaan dans tussen vreemdelinge wat nie my naam ken nie… maar hoe kan dít vryheid wees as dit my ontwyk en as Christus, die OG “Freeman”, my verlosser is en my uitnooi na ‘n lewe van vryheid?
Ons gaan Sondag gesels oor Paulus se ontmoeting met hierdie Verlosser wat hy probeer vang het. Hierdie vryheid wat anders is as die vryheid om te kies: gaan ek Seychelles of Mauritius toe vir die vakansie? Gaan ek ‘n Porche of ‘n Ferrari koop? Ware vryheid is nie – die Engels sê dit in hierdie geval beter – freedom of choice nie; dis freedom from choice. Dis die vryheid om waarlik heel en vry en ten volle te kan antwoord (en stilbly is ook mos een) in enige situasie wat jou kant toe gegooi word, ongeag wat dit is. Meeste van ons dink ons is vry en tog is ons vasgeketting aan ons agendas, ons verslawings, ons voor- en afkeure. Die tronk se deur is wawyd oop, maar ons sit geboei in die hoekie en besef dit nie eens nie. A.H. Almaas het gesê: “Freedom to be your ego is not freedom.” Dis slawerny. Jy word soos ‘n bul met ‘n ring deur die neus rondgelei.
Staan dan VAS in die vryheid, sê die apostel. Dit klink soos ‘n paradoks, sê die een wat wil ontsnap.
Daar bestaan dus geen vryheid sonder verbondenheid nie.
Hoe vry is die vis sonder die see?
Hoe vry is die vlieër sonder die tou?
Hoe vry is die trein sonder die spoor?
Hoe vry is die vrou sonder die rots (Antjie Krog)?
Verbintenis waarborg vryheid. Dis nie ‘n tronk nie; die Nederlanders noem dit ‘n “bezield verband”. Die soort verbondenheid wat jou siel laat sing … al sit jy in ‘n tronk soos die apostel.
“Mamma! Maaaaammaaaaa!”
… ek moet gaan, as die vryheid roep, moet mens antwoord…
en daar lê die ding o alla
daar lê die ding o alla
daar lê die ding
- Deur Frieda van den Heever
Comments