top of page

Die voordeel van die t̶w̶y̶f̶e̶l̶ vertroue





In die dringendheid om nou regtigwaar die jaar af te handel, herinner Advent ons om geduldig te wees te midde van ons onafgehandelde lewens.


Die Jesuïtiese priester Pierre Teilhard de Chardin het nooit sy priesterskap opgegee nie. Selfs al het sy eie priesterlike orde van sy grootste werk verbied tot ná sy dood. Vir hom was sy diep belangstelling in wetenskaplike ondersoek versoenbaar met sy liefde vir God. Nie vir al sy tydgenote nie. Terwyl baie van sy mede-gelowiges sy denke in twyfel trek skryf hy nogtans:


Give our Lord the benefit of believing that his hand is leading you, and accept the anxiety of feeling yourself in suspense and incomplete.

Die voordeel van die twyfel sluit ’n vrywaring in: As dinge nie na wense uitdraai nie, was daar darem vooraf melding van die twyfelagtigheid. Moenie sê ek het jou nie gesê nie. As ek dit regkry om te vertrou, is die onvolmaakte nou dalk nog steeds ongemaklik, maar dit kry nie die laaste woord nie.


Dan kry ons die Woord wat aan die begin daar was, vir ’n nuwe begin. Hoe gebeur dit? Die Woord kom slaan tent op hier tussen ons. Bespreek nie by ’n fancy hotel en hou ’n perskonferensie oor hoeveel beter alles, soos Koos Kombuis sing, “teen middel volgende jaar” gaan wees nie.


Ons is nie op pad om te ontsnap uit ons gewone lewens na ’n spreekwoordelike huisie by die see nie. Dis andersom. Die Woord is op pad om by ons regte lewens in te haak en saam te stap. Eerder as om te jaag tot by “nog nie”, nooi Advent ons om stadig maar seker op die uitkyk te wees vir die goeie, hier waar ons is.






bottom of page