top of page

Die stem van woede en verwonding



Waarom sou die Here vir Kain hierdie vraag vra: “Waarom is jy kwaad? Dit kan tog nie informasie wees wat die Here soek nie? Hy is immers alwetend. Dalk is die vraag daar om hulle te help om die regte stem wat die woede veroorsaak te identifiseer.

Woede is liefde wat seergemaak is, en daardie seer los ‘n wond. Eckhart Tolle sê “Where there is anger, there is always pain underneath.” Die pyn wat met ons praat veroorsaak die woede. Kain se woede-uitbarsting nadat die Here nie sy offer aanvaar het nie, het niks te doen met sy gevoel of verstaan van God nie, maar alles te doen met sy gevoel en verstaan van homself. Martin Buber verstaan Gen 4:5 so: ‘Cain’s offering is refused, he reddens with shame. His face falls.’ Die rooi is nie ‘n woede-rooi nie, maar eerder ‘n bloos van skaamte. Die stem wat jou klein hou. Wat altyd vir jou sê jy is nie goed genoeg nie. Dit is genoeg om jou kwaad te maak.

Geweld is ‘n reaksie om ons skaamte te verdedig. Liefde wat seergemaak word verlang altyd na gesond word. Kain glo die leuen wat die meeste mense glo dat deur ander seer te maak, maak ek my seer gesond. Ons gaan Sondag gesels oor hoe om die regte stem in ons woede en haat te hoor. Gen. 4 is nie ‘n storie wat God offers verwerp nie, maar eerder iemand se aandag kry waar God se stem ook in sy woede gehoor word. Ek stem saam met Rollo May wat reken dat haat is nie die teenoorgestelde van liefde nie. Dieper liefde sal altyd dieper haat bring en in sekere sin kan ons net kwaad word vir dit wat ons liefhet. Ronald Rolheiser sê: “Anger and hatred, initially at least, are almost always a sure sign of love.” “Word toornig en moenie sondig nie” (Ef. 4:26) is waardevol. Word kwaad, maar vermy die pad van Kain. Laat die regte stem jou lei.



- Deur Theo Geyser

bottom of page