Ronald Rolheiser sê: “Depressie is die siekte van ‘n normale persoon”. Die stelling mag dalk ons vrolike kultuur omkrap, en selfs godsdienstige tone vergruis. Elke produk word vandag verkoop omdat dit jou lewe makliker en gelukkiger maak. Ongelukkig bied ons tydsgees Jesus ook aan as ‘n gelukbringer. Ons sing mos “all your sorrows will vanish…”
Ons weet dis nie die waarheid nie.
Jesus het tog gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”( Joh 16:33). Hy word ook “die man van smarte” genoem (Jes53:3), en moet nog steeds in Getsemane kniel.
Die Bybel stel ons voor aan normale geloofshelde wat hulle geloof eerlik verwoord. Elia sê in 1 Kon. 19:4 “vat my lewe…”(1 Kon. 19:4). David sê hy is "kragteloos en heeltemal verbrysel en brul van die gebons van sy hart" met geen hoop of rede vir die lewe nie. (Ps. 38:9). Jona wil ook nie meer lewe en sê “vat my lewe…”.(Jona 4:7). Job vra “hoekom lewe ek? Hoekom nie dood in moederskoot nie?” (Job 3:11). Jeremia wat ook die huilende profeet genoem word sê “vervloek is dag dat ek gebore is…hoekom is ek ooit toegelaat uit my moederskoot?” (Jer. 20:14).
Ek stem saam met Thoreau wat sê dat ons lewe in stille ontkenning is en met hoogs gerasionaliseerde depressie. Ons gesels Sondag hoe ons eerlik kan omgaan met wat ons regtig voel, wat ons prakties kan doen en ook leer om die stemme te onderskei wat ons ontneem om die gawe van depressie te kan ontvang.
Ek wonder hoe sal ‘n gesonde verstaan van depressie die aaklige statistieke van selfdood in ons mooi land kan herskryf...
“Depression gives us valuable qualities that we need in order to be fully human. It gives us weight, when we are too light about our lives. It offers a degree of gravitas. It also ages us so that we grow appropriately and don’t pretend to be younger than we are. It grows us up and gives us the range of human emotion and character that we need in order to deal with the seriousness of life.” - Thomas Moore
- Deur Theo Geyser