top of page

Die skaduwee ken sy lig


ree

Is ek lief vir Psalm 23 omdat dit sê: “niks sal my ontbreek nie”? Of omdat dit so iets kan sê én deur die dal van doodskaduwee kan gaan? As ek my lewe wil deursoek vir God se teenwoordigheid sou St.Ignatius sou twee vrae voorstel:


Waar beleef ek verlatenheid (desolation)?

Waar beleef ek vertroosting (consolation)?


As ek my lewe vierkantig in die oë wil kyk, soek ek na God in albei en alles tussenin. Nietemin is ek dikwels geneig om eerder ’n alternatiewe Psalm 23 te wil skryf:


Al is ek op pad na ’n dal van doodskaduwee

sy GPS reroute my

laat my al die ongelukke vermy

alles verloop volgens my plan vir my



Is daar ’n mens op hierdie aarde vir wie dit sou kon waar wees? Nie waarvan ek weet nie. Dawid se dal van doodskadu was letterlik dat hy moes vlug vir sy lewe. Ek beleef min of meer daagliks (en veral ook snags) allerhande doodskadus – sommige so nietig dat ek my eintlik skaam, nietemin – dis dalk wat dit beteken as ek moes sê “ek sterf tien dode”:


As my geld op is.

As ek iemand anders seer maak en wens ek kon tyd terugdraai.

As ek regtig bang is ek gaan doodgaan.

As ek in die verleentheid is.

As ek oorweldig is deur alles.

As ek depressief is. 


Daar is nie plek vir die hele lys nie, maar skryf gerus jou eie by. Dis al klaar een manier om ’n lig op jou skadu te begin skyn.


Waarna gryp ek die meeste van die tyd in hierdie omstandighede? Ek soek ’n manier om te maak asof alles nog reg is.


Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne af roofsugtige wolwe is. Matt.7:15 (1933/53 Vertaling)


Dis vals om skaapklere aan te trek om goedheid voor te gee. Dis ook voorgee as ek maak asof dit met my net goed gaan. As ek die skaap in hierdie Psalm is, is ek dikwels skuldig daaraan dat ek wil wolfklere aantrek. Asof ek sê: “Ek weet waarheen ek op pad is, en dis nie die dal van doodskadu nie.”



My ander neiging is om te probeer weghol. As die GPS my nie reroute nie moet ek dalk net kyk of ek vinnig genoeg is. Weet jy hoe vinnig is ’n skaap? My skoonpa boer met skape. Voordat ek met Zinelda getrou het, kon ons ’n skaap persent kry. Die enigste catch is dat ek die skaap self moes vang. Selfs in ’n klein kampie het ek myself moeg gehardloop agter ’n skaap aan. Dis eintlik maar wat ek met wolfklere bedoel. Hoe rats ek is om my eie kop te volg. Weg van dit wat ek vrees. Asof ek van beter weet.


“Unfortunately, our natural instinct is to try to fix pain, to control it, or even, foolishly, to try to understand it […] [Faith] is the ability to stand in liminal space, to stand on the threshold, to hold the contraries, until we are moved by grace to a much deeper level and a much larger frame.” – Richard Rohr


Theo en Wilma sê vir my dat die skaapwagter op die onlangse Skaaptrek ook een van daai haakstokke het. Juis om ’n skaap vinnig te kan vang. Dikwels omdat die skaap seer het en versorg moet word, maar dit nie sommer self sal aanvaar nie. Die skaapwagter se staf is in Engels ’n crook. As ek vandag hoor “by hook or by crook” dan dink ek dis as jy selfs iets skelm sal doen om te doen wat jy moet. Daar is ’n ander verduideliking: Dat mense lank gelede die reg gehad het om brandhout te versamel met behulp van hulle haakstokke. Om by te kom wat hulle andersins nie sou kon bykom nie. By crook. As ek God se crook se vertroosting wil hê, sal ek moet vrede maak om nadergetrek te word. Dan moet ek erken dat ek myself crook juis in dit wat soms voel soos selfbehoud. Klink dit bekend? Jesus sê meer as een keer dié soort ding:


“Anyone who intends to come with me has to let me lead. You’re not in the driver’s seat; I am. Don’t run from suffering; embrace it. Follow me and I’ll show you how. Self-help is no help at all. Self-sacrifice is the way, my way, to saving yourself, your true self.” Mark 8:34-37 (MSG)


Die herder se vertroosting kom as ek sal toelaat dat sy stok en staf my nader trek. Waar gebeur dit? As ek die Psalm mooi lees – waarskynlik veral in die dal van doodskaduwee.


“I hear Don’t be afraid and hope that it is not a command not to fear but rather the nurturing voice of a God drawing near to our trembling.” – Cole Arthur Riley


In Hebreeus is Psalm 23 simmetries geskryf. 26 woorde aan die begin, 26 woorde aan die einde. In die middel, in die hart van die Psalm, hierdie woorde:

U is met my. Dis in dieselfde deel as die deel oor die doodskaduwee.


Die donkerte lyk soos alles wat my ontbreek – en ek wil hê niks moet my ontbreek nie. Tog is die skadu ook ’n beeld van dit wat altyd by my is. Met ander woorde: Wat my nooit ontbreek nie. Dis hoekom ek vir God juis daar ontmoet.


In die vallei van die doodskadu praat Dawid skielik direk met God. Tot dan was die herder nog verder: “Hy laat my neerlê, Hy verkwik my, Hy lei my.” Nou is die Herder meer bekend: U is met my. Dis hier waar Dawid mét God praat en nie net ván God nie. Dis seker hoekom ek juis lief is vir Psalm 23 mét die doodskadu by. Dis hoe ek leer om God te ken – in vertroosting en verlatenheid. Die skaduwee én die lig.



- Deon Meiring

bottom of page