Die Psalms leer ons sing
- inviagemeente
- Jun 26
- 3 min read

Die Psalms kan voel soos iemand se ou Walkman met ’n kasset in. Jy luister daarna uit nuuskierigheid. Die eerste paar liedjies is nie te sleg nie. Al is dit nie heeltemal bekend nie. Hoe verder jy luister hoe meer kom jy agter dis vir iemand spesifiek bedoel. Dis nie net ’n speellys van liedjies is nie. Tussen baie van die liedjies het iemand hulle eie stem opgeneem. Hulle sê iets oor die liedjie wat kom, wat hulle daarvan maak, hulle eie omstandighede waarin hulle is. Dis ’n mixtape. Al is dit nie uitsluitlik op jou gerig nie word hierdie Walkman nou juis kosbaar omdat dit so persoonlik is.
Die Psalms is musiek en gedigte wat eers in die Jode van die Ou Testament se tempel geken was. Dis daar gesing in kore. Ná ’n verskriklike ballingskap is hierdie mense nie net ontneem van hulle huise nie. Die plek waar hulle gewoonlik in voeling sou kom met God se teenwoordigheid in hulle lewe, die tempel, is nou net ’n bouval. Die Psalms bly nie net onder die puin nie. Dit word uiteindelik versamel sodat hulle dit kan sing. Maak nie saak waar hulle is nie. Dis die deel van die tempel wat nie net op een plek hoef te bly nie. Hulle kan dit enige plek saamdra. Soos ’n Walkman.
“Hoe kan ons ’n lied van die Here sing op vreemde grond?” Psalm 137:4 (2020 Vertaling)
Die Psalmdigter verlang na die heilige dae van die tempel om te kan sing. Sommige mense in vandag se tyd sing slegs in die stort (en soms die kerk). Die bannelinge is uit plek uit. Hulle sing die Psalms om weer hulle plek te vind. Die stortsanger is skaam. Die Psalms wys dat selfs ’n Bybelboek skaamteloos mag wees.
Die Psalms is gewoonlik nie bedoel vir mense en tye waar alles in plek is nie. Wie van ons onthou so tyd? Walter Brueggemann merk op dat iets maar min of meer die meeste van die tyd uit plek uit is. Die Psalms durf om daai kenmerk van menswees te verwoord en te sing. Die kere wat ek nie lus is om saam te sing nie, is dalk wanneer ek sukkel om my eie plek te herken of erken. Dit geld selfs vir die lofpsalms. Die klaagliedere sing oor hoe uit plek uit ek, my lewe of my mense is. Die lofliedere sing oor hoe ons uit dáái plek uit is.
Die Psalms se vorm is gereeld aan die eggo. Vraag, antwoord. Vraag, vraag. Verdriet, Verlossing. Verlies, Lofsang. Lofsang, Lofsang. Eers wanneer ons ons eie stemme en lewens binne-in die Psalm plaas hoor ons wat dit eintlik vir ons kan sê. Dit beteken ons stemme eggo dan ook terug. Soms is dit moeilik, want dis nogal menslik om vir jou eie stem te cringe. Dit wat regtig uit my stembande en my borskas kom klink nie dieselfde as in my kop nie. Dis ook nie die enigste deel van die Psalms wat ons kan skaam maak nie.
Dalk herken jy die skrif hierbo as ’n Boney M liriek. Dit was eintlik eers The Melodians. As Rastafariërs verwoord Psalm 137 vir The Melodians iets van hoe die wêreld hulle nie verwelkom nie. Tog het hulle liewer die ongemaklike laaste deel vervang met Psalm 19: “…let the words of our mouth and the meditation of our heart be acceptable in Thy sight”. Die ware einde van Psalm 137 is nie maklik acceptable nie. Die Psalmdigter praat van teenstanders se kinders wat verbrysel moet word teen klippe. Hoe is dit aanvaarbaar?
Wil ek so wreed en gevoelloos wees? Natuurlik nie. Het ek wraaksug in my? Ongelukkig, ja. Ek wil hê iemand moet betaal vir dit wat verkeerd is. Brueggemann se insig is dat die Psalmdigter se skokkende uitbarstings uiteindelik nie wraak in eie hande neem nie. Dit bring dit na God toe. Eerder as om dit bloot weg te steek. Dit beteken nie ons kan net verby dit blaai nie.
Hierdie verskriklike beelde wat ons soms in die Psalms raaklees spreek van ’n amper ongekende skaamteloosheid voor God. Dit wys iets van woede wat soms uit plek uit kan wees, maar ook hoe dit ’n plek kan hê. Soms is die nodige skuiwe – in my lewe, my verhoudings, ons samelewing, ons misbruike – eers moontlik as ek my woede nie meer weghou nie.
Die Psalms leer ons om te sing waar ons ook al is. Woedend, laggend, huilend, smekend, dankbaar en nog wat. Dis met hierdie opregtheid dat ons dit kan waag om onsself te vind, al bevind ons onsself uit plek uit. Nog steeds vind God ons. As ons dit kan sing kan ons dit beleef. Dit begin as ek die Walkman se oorfone opsit, aandagtig luister en uiteindelik my eie stem ook op daai mixtape waag.
- Deon Meiring