Die pad wat min neem: voor jou dood


"Do not seek death. Death will find you. But seek the road which makes death a fulfillment."

Dag Hammarskjöld


... die titel is dalk misleidend. Ons almal stap dié pad. Almal se lewens hang aan 'n draadjie. Elkeen se lewe is 'n one-way ticket. Die onderskeid is dat die meeste van ons tot die dag van ons dood veg om te óórlééf, dat 'n paar op die punt kom om hulle lewens weg te gee en nog minder: om hulle dood te gee as geskenk.


Ronald Rolheiser skryf:

"There are three major stages of Christian discipleship: the struggle to get our lives together, the struggle to give our lives away, and, ultimately, the struggle to give our deaths away. "


Maar hierdie laaste konsep is volksvreemd vir ons. Hoe gee mens jou dood weg?


Henri Nouwen het op 'n keer gesê dat daar 'n tyd in jou lewe kom wat die groot vraag nie meer "Hoe kan ek lewe sodat my lewe steeds 'n bydrae lewer?" is nie. Die vraag word eerder: Hoe kan ek leef sodat, wanneer ek sterf, my dood 'n wonderlike seën is vir my familie, my vriende, die kerk en die wêreld?


En dis nie 'n vraag vir mens se "oudag" nie. Vandag kan jou oudag wees, as jy in terme van jare dink. Nie een van ons weet hoeveel minute, dae of jare daar nog is voor ons die tydelike met die ewige verwissel nie.


Ons herdenk hierdie week Palmsondag. Jesus se intog in Jerusalem. Een wat baie gemeen het moet getuig van triomfantlikheid, van oorwinning, van sukses. En toe, classic Jesus, kom Hy daaraan op 'n donkie, sonder fanfare. Op pad na sy dood. Om, in lyn met die res van sy lewe, weereens te wys dat waarde - in die ware sin van die woord - nie gekoppel is aan waardigheid (sukses, aksie, genoegdoening) nie. Nie aan wat jy doen, wat jy besit of wat ander mense van jou dink nie.


Jesus het vir ons 'n dubbele geskenk gegee - sy lewe en sy dood. Ons onderskei meestal nie tussen die twee nie, ons bondel dit saam in een daad terwyl dit twee goed is: Jesus het sy lewe vir ons gegee, op een manier - deur sy aktiwiteit; Hy het sy dood vir ons gegee op 'n ander manier - deur sy passiwiteit; sy passie (lydsaamheid, lyding); sy gelatenheid wat gekom het uit diep worstelings teen sy Vader se bors; sy óórgee, wat die teenoorgestelde van opgee is.


“Productivity is too narrow a measure of usefulness, disability too cramping a notion of helplessness. An old woman may be helpful simply as a figure valued for her character. Like a stone at the bottom of a riverbed, she may do nothing but stay still and hold her ground, but the river has to take her into account and alter its flow because of her."

James Hillman


Ek het onlangs gehoor van Neil Selinger en toe verder gaan lees oor hierdie merkwaardige man en sy lewe ... op pad na sy dood. Hy is 'n afgetrede (uiters suksesvolle) prokureur wat toe kort na sy aftrede, in sy laat vyftigs, gediagnoseer is met die Lou Gehrig's siekte - 'n fatale, angswekkende siekte wat die liggaam verteer, maar glad nie die verstand aantas nie. Selinger het aangesluit by 'n skrywersgroep en sy ervaring so opgesom: “As my muscles weakened, my writing became stronger. As I slowly lost my speech, I gained my voice. As I diminished, I grew. As I lost so much, I finally started to find myself.”


Mag die min wat hierdie nou pad neem, ons inspireer om ons lewens "agtermekaar" te kry (dis ok, solank dit nie die einddoel wees nie), om ons lewens weg te gee (dis nog beter, maar wag: daar is meer ... soos Verimark ons leer) en dan uiteindelik - en mag "uiteindelik" nie gereserveer wees vir jou oudag nie - om ons dood weg te gee.


- Deur Frieda van den Heever