top of page

Die pad wat min loop: Nederigheid


Ons harte werk soos ‘n padkaart. Soos Google maps. Dit vertel jou waar jy is en waarheen jy gaan. Daarom was die eerste vraag in die Bybel: Waar is jy? Jesus vertel stories sodat ons ons harte kan sien en sin kan maak van waar ons in die lewe is. Die pad van ons hart is belangrik, want daar is groot maklike paaie wat ons uit ons hart uitlei en dan is daar kleiner ongemaklike paaie wat ons verbind aan ons ware geskapenheid in God.

Ongelukkig is dit die pad wat min loop.

Lukas 18 is ‘n storie wat ons harte spieël. Dit gaan oor ‘n Fariseër wat bid en God dankie sê dat hy nie soos ander mense is nie en dan ‘n tollenaar wat nie eers wil opkyk nie, op sy bors slaan en vra dat die Here hom genade moet gee.

Vandag sal die sosiale wetenskap die gedrag van die Fariseër maklik kan verduidelik. Ons maak sin van onsself deur vergelyking. Jy is ryk of arm, mooi of lelik, goed of sleg en deur my aan die een pool te skaar glo ek dan ek elemineer die ander pool. En, dan veral deur negatiewe vergelykings. Wetenskaplikes het bevind dat wanneer iemand oor jou suksesse praat, en oorskakel na sy nederlae, die brein dan hoër stimulasies ervaar. Die Fariseër word gestimuleer deur swakker mense om hom, wat hy as die vertrek punt van sy selfwaarde maak. Jesus se diagnose is hoogmoed.


Nederigheid beteken "low lying". Die woord kom van humus wat grond beteken. Hoogmoed vermy ons stoflikheid en menslikheid ten alle koste. Dit is tien teen een die alarm wat in ons brein afgaan.

Ons gesels Sondag oor hierdie moeilike pad wat ons moet loop. Ons kan net God se seën ontvang wanneer ons die hoof buig. Die uiterlike postuur om die hoof te buig is maklik, ons weet nie altyd wat binne ons moet buig om God se seën te ontvang nie, omdat hoogmoed wegkruip en altyd sal weier om te sê wie hy werklik is.


- Deur Theo Geyser

bottom of page