top of page

Die Grootste Loser Wen



Ek onthou nie baie van atletiek op skool nie. Of nee, ek onthou eintlik verskriklik baie. Sintuiglik: die reuk van die gesnyde gras, my hart wat in my borskas klop voor daai skoot afgaan, my blou seer tone na my eerste hekkieswedloop. Wat ek nie onthou nie, is wanneer ek gewen het en wanneer meestal nie. Al herinnering wat ek het is dat my pa ‘n baanbeampte was en my altyd uitgevang het aan die einde. As ek 2 is, ruil hy nommers uit sodat hy 2 kan vang. As ek 4 is, vang hy uit op 4. So wen of verloor en die tyd wat ek gehardloop het was nie eintlik ter sprake nie, solank my pa my vang.


My sesjarige het nou die aand vir my ‘n preek gegee. Nie afgesteek nie. Trouens, hy’t nie bedoel om vir my enigiets te gee, behalwe om sy frustrasie uit te druk nie. En tog was daar ‘n geskenk in die belediging opgesluit. Hy het, na hy nie wou tande borsel of enigiets anders doen wat vir hom voorgeskryf word nie, met groot trane in sy oë, dit heeltemal verloor en geskree: “Loser!” Iets in my het, voor ek reageer het (en ek is so ver van ‘n Unschooling-ouer soos mens kry, glo my) eers na my kamer toe geloop, op my bed gaan sit en dit laat insink. Nie so erg soos ek gedink het dit sou wees nie. Toe het ek opgestaan en by hom gaan sit en die “Jy praat nie so met jou ma, of met enigiemand anders nie, al is jy hoe kwaad”-gesprek gehad. Die dag daarna het ek weer by hom gaan sit en gesê, “Al het ek dit bedoel dat jy nooit iemand anders ‘n loser mag noem nie, dink ek tog jy was reg. Mamma is ‘n loser. Weet jy wat’s ‘n loser? Iemand wat al baie dinge gelose het. Ek verloor baie keer my sleutels of al my mooi kussings en duvets op die oomblik met Benji (ons rescue puppy) in die huis. Ek verloor ook soms my humeur, nou die dag vir die eerste keer ‘n armdrukgeveg teen my kind en dan ook groter: soos vir Pappa. “


Ek’s ‘n loss-klos.


En mens sou dink dat ek nou al ‘n swartbelt in verloor moes hê, van al die oefen, tog kies ek dit nie; dit kies my. Iemand het gesê, “Die lewe is ‘n reeks verliese,” en ons hele geloof – al Jesus se leringe – is op een of ander wyse gegrond op “die een wat laaste is, sal eerste wees”. Hoekom is dit dan so moeilik? Hoekom probeer ek my kinders beskerm teen swaarkry en verlies? Hoekom, as hulle nie die span gehaal of die drie gedruk het nie, is my eerste reaksie: “Ag nee man, dis mos nou niks nie. Dis nie so erg nie. Het jy al ooit gesien dat mamma en maar maatjies hardloop om te kyk wie wen voor ons aansit vir ete?” En so hou ek hulle weg na ‘n waardevolle ervaring, van die oefening om te verloor, van die moed en medemenslikheid wat verloor kan kweek. Van die wins wat net ‘n sekere soort verlies op aarde kan meebring.


Wat baat dit die mens as hy die hele wêreld wen, maar homself verloor?


Die hele gedeelte in Matteus 16, so in die pylvak (no pun intended) na Goeie Vrydag:


Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.


Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.


Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?

Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?



‘n Retoriese vraag as daar al ooit een was. En tog probeer ons dit op allerhande maniere beantwoord, vergeet ons dat geen trofee, akkolade, status, rekord of promosie ons siele kan voed nie. Diegene wat ons beloon en beskryf as suksesvol, is dikwels die een wat bloot die angstigste was. Om te verloor, of te misluk, het veel meer waarde vir jou geestelike groei en die omskepping van jou binnelandskap:



For the personality, bankruptcy and failure may be a disaster. For the soul, it may be grist for its strangely joyful mill, and a condition it has been secretly engineering for years.


David Whyte



Success has absolutely nothing, absolutely nothing to teach you spiritually after age thirty. It just feels good. That’s all. Everything you learn at my age, in my seventies now, is by failure, humiliation, and suffering; things falling apart. Dissolution is the only thing that allows the soul to go to a deeper place. 


Richard Rohr



Jou siel verdra nie net verlies en mislukking nie; jou siel soek dit! Dit waarvan jy weghardloop, omhels jou siel.



Hierdie radikale skrywe is opgeplak in my studeerkamer:


Start with loss. Lose everything. Then lose it all again.

Learn to lose as if your life depended on it. 

Learn that your life depends on it.

Learn it like karate, like riding a bike. Learn it, master it.

Lose money, lose time, lose your natural mind.

Get left behind, then learn to leave others. 

Lose and lose again. 

Lose until it's second nature. 

Losing farther, losing faster. 


John Murillo


Hierdie een ook, maar ek lees hom nog met skrefiesoë:


Let go of everything! Lose everything! Take to the air. Take to the open sea. Take to letters. Listen: nothing is found. Nothing is lost. Everything remains to be sought. Go, fly, swim, bound, descend, cross, love the unknown, love the uncertain, love what has not yet been seen, shrug off the old lies, dare what you don’t dare, it is there that you will take pleasure, and rejoice, rejoice in terror, follow it where you’re afraid to go, go ahead, take the plunge, you’re on the right trail! Listen: you owe nothing to the past, you owe nothing to the law. Gain your freedom: get rid of everything, give up everything. Give up absolutely everything, do you hear me? All of it! Give up your goods. Done? Don’t keep anything; whatever you value, give it up. Are you with me? Search yourself, seek out the shattered, the multiple I, that you will be still further on, and emerge from one self, shed the old body, shake off the Law. Let it fall with all its weight, and you, take off, don’t turn back: it’s not worth it, there’s nothing behind you, everything is yet to come.


Helene Cixous


‘n Ander Heleen – ‘n sesjarige by ons in InVia wat kom uit ‘n familie van naellopers, het wel nou die dag weggespring en omgedraai en gesien daar is iets (of iemand) agter haar. Sy het ook die vinnige gene gekry, soos dit sou blyk uit haar eerste wedloop in die grootskool en sy was net voor die wenstreep ver voor al haar maatjies … tot sy dit besef het. Sy het omgedraai en gesien hulle is nie naby haar nie. Toe wag sy vir hulle en hulle maak saam klaar. Sy sou eerder saam “verloor” as alleen wen.


Kinders moet natuurlik ook leer om te wen, ‘n selfbeeld bou voor dit, so min of meer in die tweede helfte van jou lewe ook afgebreek kan word. Om alleen gelos te word met verlies of enige slegte ervaring, sit om in trauma, soos Gabor Maté skryf. As hulle weet hulle is nie alleen nie, is dit nie noodwendig minder sleg in die oomblik nie, maar dit sit nie om in trauma wat in die liggaam agterbly nie. Verlies wat alleen verwerk word, kan mens stomp en afgesny laat. Dis die saamwees wat die alchemie skep: wat moedige, medelydende mense voortbring. Vir my kinders sal ek dit eenvoudiger stel: brave and kind. Clinton du Plessis beskryf iets van hierdie reeks verliese en die skemerkant daarvan.



Kleedrepetisie


Everybody got that broken feeling, like their father or their dog just died. 

Leonard Cohen


Jy skud hande met verlies; 

jonk word jy verwond 

met jou eerste hond 

wat sterf voordat hy oud kon word. 

Jy onthou 

jou pa wat jou probeer troos, 

wat vertel dat jy 'n ander een in sy plek sal kry, 

maar jy soek een presies soos dié een 

wat jy aan die dood afgestaan het: 


een met onhandige pootjies 

wat al agter sokkies en skoene 

aan waggel, onvas ploeter, 

snuffel-snuffel die lewe ontdek, 

op sy rug omrol, 

maak-maak hap na jou hand; 

een met ogies wat bons vol bestaan, 

wat kom slaap op jou skoot, 

wat jou met sy lewe vertrou. 


Dan, véél later, op 'n dag 

wat jy nooit sal kan vergeet nie, 

jou pa wat sterf en jy wat alleen 

op die vervalle werf soek 

in jou kop na beelde 

van 'n klein bondeItjie hond, 

toegedraai in sy kombers, 

begrawe in die hoek van die tuin 

onder 'n hopie grond 

en jy hoor weer jou pa wat probeer troos: 

ons sal vir jou 'n ander een kry. 

En iewers in jou 

knip 'n hekkie toe, 

word 'n kers uitgeblaas. 


Mag ons hierdie reeks verliese nie net normaliseer, of uitstaan, nie, maar vier as broodnodige sielsreise, as redes om saam te staan. Mag ons ons kinders en die binnekinders in ons so omhels dat ons hulle nie in watte hoef toe te draai nie.


The most beautiful people we have known are those who have known defeat, known suffering, known struggle, known loss, and have found their way out of the depths. These persons have an appreciation, a sensitivity, and an understanding of life that fills them with compassion, gentleness, and a deep loving concern. Beautiful people do not just happen.


Elisabeth Kübler-Ross



As jy nog ‘n paar minute het, lees gerus hierdie meditasie van Anthony de Mello deur wat gebaseer is op Matteus 16:26:


Roep die gevoel op wat jy het as iemand jou prys, wanneer jy goedkeuring, aanvaarding en applous ontvang. Stel hierdie gevoel teenoor die gevoel wat in jou verwek word as jy kyk na ‘n sonsopkoms of ‘n sonsak of die natuur oor die algemeen, of wanneer jy ‘n boek lees of ‘n fliek kyk wat jy gate uit geniet. Proe vir ‘n oomblik aan hierdie gevoel en vergelyk dit met die eerste, die een wat jy ervaar het toe jy geprys is … of hoog op prys gestel is … baie werd was … luuks gevoel het.

 

Verstaan jy dat die eerste gevoel spruit uit selfverheerliking en selfpromosie? Dit is ‘n wêreldse gevoel. Die tweede een spruit uit selfvervulling, ‘n sielsgevoel.

 

Hier is nog ‘n kontras: Roep die soort gevoel op wat jy kry as jy iets regkry, suksesvol was, wanneer jy dit gemaak het, wanneer jy by die bopunt van die leer kom, as jy ‘n wedstryd of ‘n weddenskap of ‘n argument wen. Vergelyk dit met die soort gevoel wat jy kry as jy werklik die werk wat jy doen geniet, wanneer jy geabsorbeer word in die handeling waarmee jy op die oomblik besig is. En word weereens bewus van die verskil in kwaliteit tussen die egogevoel en die sielsgevoel.

 

Nog een: Onthou hoe jy gevoel het toe jy mag en beheer gehad het, toe jy die baas was, toe mense na jou opgekyk het, bevele van jou geneem het of toe jy regtig gewild was. Vergelyk daardie gevoel met dié van intimiteit, kameraadskap – die tye wat jy jouself geniet het in die geselskap van ‘n vriend of saam met ‘n groep mense waar daar harmonie was en gelag is.

 

Probeer nou die ware natuur van wêreldse gevoelens – dié van selfverheerliking en selfpromosie verstaan.  Hulle is nie natuur-lik nie, hulle is kunsmatig geskep deur jou gemeenskap en jou kultuur om jou meer produktief en beheerbaar te hou.  Hierdie gevoelens kan nooit die heilsaamheid en geluk produseer wat tyd in die natuur en tyd in die geselskap van mens se vriende of vervullende werk kan skep nie.  Hulle is bedoel om “thrills” en opgewondenheid van korte duur en dan leegheid te skep.

 

Gaan hou jouself môre of oor die tydperk van die komende week dop en sien hoeveel goeters jy doen wat besoedel is deur die drang na hierdie “thrills”, hierdie opgewondenheid wat leegheid skep, die behoefte na aandag, goedkeuring, roem, gewildheid, sukses of mag.

 

Kyk dan na die mense rondom jou. Is daar een enkele een van hulle wat nie ook verslaaf geraak het aan hierdie wêreldse gevoel nie? ‘n Enkele een wat nie beheer word daardeur, honger is daarvoor en elke minuut van sy of haar wakker lewe spandeer om bewustelik of onbewustelik daarna te soek nie? Wanneer jy dit sien, sal jy mense se poging om die wêreld te wen, en in die proses hulle siele te verloor, begin begryp. Want hulle leef leë, siellose lewens.

 

En hier is ‘n vergelyking van lewe waaroor jy kan dink: ‘n Groep toeriste sit in ‘n bus. Die bus ry deur ‘n oorweldigend pragtige landskap; mere en berge en groen velde en riviere. Maar die bus se skaduskerms is afgetrek. Die mense het nie die vaagste benul van wat agter die vensters van die bus lê nie. En elke kosbare minuut van hulle reis word gebruik om te stry wie die beste sitplek in die bus moet kry, wie die beste storie kan vertel, wie se kospakkie die lekkerste lyk, wie die hardste handeklap moet kry. En so bly hulle … tot die einde van die reis.

 

Anthony de Mello



- Frieda van den Heever

bottom of page