top of page

Die Boomwortels Is In Die Hemel


In Handelinge 17 word Jason en ’n paar ander deur die Jode na die leiers van die stad Tessalonika gesleep omdat hy vir Paulus-hulle blyplek gegee het. Hierdie Paulus en sy makkers wat besig was “om die wêreld om te keer”. Paulus durf om te sê dat

daar ’n ander koning is as die keiser.


Jesus is die Here.


In antieke Rome is die keiser onder andere aangespreek as Here, Dominus, die regeerder van die ryk. Dus om te sê Jesus is die Here is nie om te sê Hy is goddelik nie, soos ons dit vandag baie keer interpreteer nie, maar eerder om te sê Hy is die regeerder – die Dominus. Dit is meer ’n politieke uitlating as ’n geestelike een. Dit is hoekom Paulus in 1 Korintiërs sê dat slegs mense wat die Gees van God in hulle het so ’n rebelse en lewensgevaarlike uitlating sal maak. Dit is hoogverraad.


Jesus is die oorspronklike rebel, die een wat alles op sy kop draai. Die een wat die strukture van die dag, polities en religieus, uitgedaag het ten koste van sy eie lewe.Ek hoop om hierdie groot idee in die handvol bladsye te kan aanraak. Die boek draai dinge op sy kop, of regop. Nadat ek dit geskryf het, het ek besef hoe baie woede daar in die boek is, hopelik ’n heilige tempel-skoonmaak-woede.


Daar is rofweg drie dele in die boek. Dit praat oor die manier hoe ons omgaan met drie kern aspekte van ons lewe: God, onsself, ons konteks of te wel ons dorp. Daar is twee maniere om in hierdie drie ruimtes te beweeg en te leef, die keiser se manier of

Jesus se manier. So gereeld verwar ons die twee maniere. Ons is al solank besig met die dinge van die keiser, dat ons dit al heilig verklaar het.


Kom kuier Sondag saam by Invia Kaapstad waar ek oor Boomwortels in die Hemel gaan praat, 17:00 by 2 Derry rd, Rondesbosch en bly gerus na die diens vir die bekendstelling 18:15 en geniet ‘n gesprek en ‘n wyntjie saam met ons.

bottom of page