top of page

Besoekure: Die Hemel se wagkamer


My sluise het hierdie week oopgegaan. Die damwalle het meegegee. Ek het vir byna 80 dae probeer om alles "bymekaar" te hou, om in beheer te bly, om nie die balle te laat val nie en toe ek Maandagoggend deur die tonnel ry op die N1 (soos soveel kere tevore), het my skanse verkrummel. Ek het die voorreg om hier te sit en tik terwyl ek so ver kan sien as wat dit menslik moontlik is. As ek sou skreeu, sou die kranse beslis antwoord gee. Voëls kom sit hier by my, die hele vallei is lewendig en vroeg op ... amper asof hulle wag vir die mense wat nog slaap om "by te kom". My rekenaar se knoppies is eintlik die enige steurnis. En die geluide van die verkeer daar ver onder word uitgedoof deur hierdie grootse stilte. Wat raas. Alles bewe van lewe. En die mooi is séér. Want ek het geen beheer daaroor nie. Ek voel so klein en so oorweldig en so oorgegee aan God.


In ons huise skep ons dikwels die illusie dat ons in beheer is. As die kaste reggepak is, elke ding op sy plek is, die kosblikke gepak is, almal se skedules op die yskas is. In die natuur word daardie illusie onmiddellik afgebreek. En ek begryp, saam met Sheila Cussons: "Jy het my geteken vir die avontuur van Jóú." En ek wéét, sonder 'n Bybel langs my ... want ek sit binne-in God se eerste Bybel. Geskryf in Sy moedertaal: stilte. En ek kan insien hoekom St. Franciskus gepraat het van Moeder Aarde en Broeder Son en Suster Maan, so asof alles heilig en niks uitgesluit is by die uitnodiging van God se seën nie.

Ons vier Sondag St. Franciskusdag saam met ander Christene (en seker "nie-Christene") wêreldwyd. Ek sit "nie-Christene" in aanhalingstekens, gedagtig aan Jeanne Goosen se woorde: "Die enigste ware Christene wat ek ken, is my honde". St. Franciskus is gebore in die twaalfde eeu en die Katolieke Kerk se Beskermheer van diere en die ekologie. Dit is ook ’n algemene gebruik vir mense om op hierdie dag of die Sondag daarna, hulle diere - honde, katte, voëls, visse - te bring om geseën te word: ’n gebruik wat vir baie van ons vreemd voel. Vir St Franciskus van Assisi was dit glad nie vreemd nie. Hy het die skepping en alles daarin beskou as die liggaam van God en homself as ’n integrale deel daarvan. Hy het sy liefde vir God uitgedruk deur sy verwondering en bewaring van die natuur. Hy is ook bekende vir sy woorde: “Deel die evangelie te alle tye, en wanneer nodig, gebruik woorde.” Daar is baie mense wat nie sal sê hulle glo in God nie, maar 'n onwrikbare hunkering het na en rus vind in die natuur. Amper asof die vraag "Glo jy?" net anders gesê en anders gehoor moet word. Met die antwoord: "Natuur-lik!" Want dá vat Hy.


Ed Sheeran se nuwe song begin met die woorde "I wish that Heaven had visiting hours ..." en ek vermoed sy wens het reeds waar geword: die Ewigheid hét besoekure. En die natuur is die wagkamer. Hier. Nou.


"The created world itself can hardly wait for what’s coming next. Everything in creation is more or less held back. God reins it in until both creation and all the creatures are ready and can be released at the same moment into the glorious times ahead. Meanwhile, the joyful anticipation deepens.

All around us we observe a pregnant creation. The difficult times of pain throughout the world are simply birth pangs. But it’s not only around us; it’s within us. The Spirit of God is arousing us within. We’re also feeling the birth pangs. These sterile and barren bodies of ours are yearning for full deliverance. That is why waiting does not diminish us, any more than waiting diminished a pregnant mother. We are enlarged in the waiting. We, of course, don’t see what is enlarging us. But the longer we wait, the larger we become, and the more joyful our expectancy …"

Rom. 8 MSG


Die hele skepping is hier en praat oor - en met - God. En huil en wag en smag met "reikhalsende verlange", soos die ou vertaling sê na die Ewigheid. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer.


"I found the land which matched my interior landscape. The door separating inside and outside opened. What my eyes saw meshed with images I carried inside my body. Pictures painted on the walls of my womb began to emerge."

Meinrad Craighead


- Deur Frieda van den Heever

bottom of page