top of page

Advent: 'n Magtige Redder

ree

Ons hou van redders, inteendeel ons is versot op hulle. Dis hoekom superhelde flieks maak of breek, politici stemme kry en celebrities standbeelde. Die dissipels was nie anders nie. Hulle het verlang na 'n Messias wat konkrete resultate sou lewer – een wat hul ekonomiese ellende kon verlig, hul materiële omstandighede kon transformeer, en hulle kon bevry van die armoede en onderdrukking wat soos 'n juk op hul skouers gedruk het. 'n Koning wat nie stories vertel nie, maar swaarde swaai. 'n Leier wat nie praat oor liefde nie, maar oor oorwinning.


Die dissipels het bitter min verstaan van Jesus se woorde: "Die koninkryk van God is in julle." En wie kan hulle blameer? Dit is immers baie gemaklik – selfs verleidelik – wanneer 'n redder alles vir jou doen en jy geen verantwoordelikheid hoef te neem vir jou eie lewe nie. Passiewe ontvangers van genade, sonder die harde werk van transformasie. Dit is maklik om buite te soek – in herlewingsdienste, in toekomstige hemelse beloftes, in die dramatiese ingryping van 'n magtige God. Maar dit word eksponensieel moeiliker wanneer die werk binne moet gebeur, in die donker hoeke van jou eie hart waar jy jou eie lewe moet konfronteer.


Dít is die redding waarvan Jesus praat—nie ’n kwytgeskeld-plakker op my voorkop nie, maar ’n aanhou-aankom.

 

Redding is die pad, die stof, die sweet van die terugreis huis toe. Dit is die sagte besef dat jy nooit los van God was nie; dat jy net, êrens langs die pad, jou kompas verloor het. Redding is ’n reis, nie ’n transaksie nie; ’n beweging van ontwaking, herstel en helderheid. Herman Ridderbos, ‘n bekende teoloog,  het reeds in 1962 die volgende oor die koninkryk van God geskryf: Ons is gered, ons is besig om gered te word, en ons sal gered word – ’n sirkelgang van genade.

 

Die redding kom deur die vergifnis van ons sonde (Luk. 1:77). Sonde beteken om jou doel te mis— en is nie ’n katalogus van morele foute nie, maar die eenvoudige waarheid dat ons soms nie tref waarheen God ons roep nie.  Die Verlore Seun word omhels terwyl hy nog onrein is; sy belydenis kom eers ná die omhelsing. God se liefde wag nie vir ’n opgepoetste lewe nie.

 

Sonde is nie boosheid nie, maar verdwaling; doelverlies en nie die vuilheid van die hart nie. Nie skuld wat betaal moet word nie, maar ’n pad wat weer gevind moet word.

En Kersfees?


’n Ster wat fluister: draai om, mens. Stap in die lig in waar redding reeds in jou woon, waar jy stadig maar seker nóg gered word, en waar die volle heelheid eendag móói sal oopvlek. 


- Theo Geyser

bottom of page