top of page

Advent: Jesus as Saligmaker!



Dit is eers wanneer jy baie naby aan die dood kom dat jy besef wat lewe beteken of om gered te word van die dood. Kersfees belowe ons redding en die woord wat daarvoor gebruik word is Saligmaker.

Wat sou dit beteken dat Maria God haar Saligmaker of Redder noem? Maria noem ook dat sy ook die salige of saligmaker genoem sal word. Ons het ‘n baie beperkte verstaan van redding wat neerkom op ‘n transaksie wat gemaak word, sodat ek in die hemel kan kom. Ons het ook die woord persoonlik ingesit, wat glad nie in die Bybel voorkom nie, omdat ons in ‘n narsistiese samelewing leef waar dit gaan oor selfbelang en eiereg. Gewoonlik groet hierdie evangeliese yweraars jou met ‘n irriterende entoesiasme, of goedkoop slogans van sportsterre en soms voel jy ook die militante impulse! Dit is gun wonder dat Johnny Cash met sy “Personal Jesus” hierop probeer kommentaar lewer en Tom Waits met “Chocolate Jesus” jou help om deur die soetsappigheid van godsdiens te sien.

Ons gaan Sondag gesels oor hoe ons redding begin by ons menswees en liggaamlikheid. Net soos Kersfees: “Die Woord het vlees geword.” (Joh 1:1). Dit is ‘n baba onbesmet en onskuldig en sonder plooie. Elke mens wil so vlesie teen jou lyf druk! Maar dan kom die littekens in die liggaam, en vashou word eerder wegdruk. Vee jou oë uit en sien hoe gou word vlees slagoffer van haar eie behoeftes. Kersfees belowe dat jou liggaam weer tempel kan word. Indien dit so is dan is daar baie goeie nuus vir ‘n jaloerse vlees, rustelose vlees, gestresde vlees of ‘n owerspelige vlees!

Ons hoef nie besorg te wees oor die vrae: Is jy gered of gaan jy hemel toe of is Jesus jou Persoonlike Saligmaker nie. ‘n Persoonlike verhouding met Jesus kan vir geen Christen onbelangrik of onderhandelbaar wees nie. Dit is die wese van die evangelies. Dit is omdat ek ‘n intieme verhouding met God ontwikkel dat ek Christen word, en nie anders om nie. 'n Transaksie waarborg nie my Christenskap nie, maar eerder my lewe en volg van Jesus.

Ons moet meer besorgd wees om as saliges te leef. Dit gaan beteken ons gaan ander help. God word die gemeenskaplike Saligmaker. Toe hulle die sielkundige Fritz Pearl vra: Are you saved? Antwoord hy: “I trying out to figure out how to spend it! “ Ons redding wys en word ervaar wanneer ons ander help.


Lees maar net Maria se lofsang verder! (Luk 1:46-56).


- Deur Theo Geyser


bottom of page