top of page

Advent: Hoe om te wag?

  • Dec 18, 2025
  • 2 min read

Die skaapwagters het nie buite Bethlehem op hulle fone sit en scroll om die tyd om te kry nie. As ons die kenners oor die historiese konteks van daardie tyd ernstig opneem, was die skaapwagters ook nie bloot eenkant of onbelangrik in die samelewing nie. Hulle het vaardighede gehad wat selfs gevaarlik was. Dit was wat nodig was om hulle werk om te wag behoorlik te doen. John Dominic Crossan sê dat die herders op die ope veld gekies was om die engele se boodskap te ontvang omdat hulle goed daarin was om nonsens uit te ken. Hulle was immuun teen die giere van die hoofstroom omdat hulle eenkant moes leef.


Dis hoekom hulle hierdie boodskap ontvang van iets uitsonderliks wat gebeur het: Uiteindelik het God in lewende lywe opgedaag. God, die skepper van alles. Iemand só groot word klein soos ons. ’n Baba. Ons kort die regte soort mense om oop te wees vir hierdie soort nuus. Die soort mense wat in die oop veld uithang en sodoende nie net opgesweep raak deur agendas wat probeer beïndruk nie.


Hoe om te wag? Vind tyd en plek vir die oop veld. Daar waar jy ’n ander wysheid kan aanleer. ’n Ander geduld wat ruimte maak om die goeie nuus te kan uitken.


Savvy soos die skaapwagters dalk was, was hulle tog bang. Dis wat afwagting moeilik maak. Dit haal ons uit die veilige, bekende stand van sake uit. Selfs al is dit wat nou hier is nie noodwendig presies soos wat ek dit wil hê nie, kan my vreesagtigheid my laat vasklou aan dit wat ek minstens ken, eerder as om oop te wees vir iets heeltemal anders wat nog kan kom.


Hoe om te wag? Moenie bang wees nie. Of vra waarvoor is ek bang? Waarvandaan kom die vrees wat maak dat dit moeilik is vir my om iets goeds in die toekoms te verbeel?


Die skaapwagters in Lukas is ook nie net daar om die nuus te hoor nie. Hulle het besluit om te gaan kyk. Hulle word deel van die storie. Soveel so dat hulle uiteindelik help om dit vir ander te vertel. Tog moes hulle daarvoor los waarmee hulle gewoonweg sou besig wees. Dit waaraan hulle eintlik hulle lewens wy – hierdie skape waarna hulle kyk. Hulle moes bereid wees om dit eers te laat staan om iets heeltemal nuut te sien.


Hulle kom by Josef en Maria aan en in die Message vertaling sê dit: “…seeing was believing”. Nie almal wat daai ou babatjie gesien het sou glo dat hierdie die God van die heelal se kind is nie, maar hulle het, want hulle was gereed daarvoor.


Hoe om te wag?


Maak tyd en plek vir die oop veld, die eenkant, die afstand van die gewone verwagtings en eise. Maak vrede met die vrese wat maak dat ek eerder wil vashou aan dit wat ek nou kan sien. Laat staan vir ’n oomblik dit waarmee ek so besig is.


En sien die goeie nuus.


Ontmoet vir God, in sy kind. Sy klein, weerlose kind. Uit tydloosheid tot in ons menslike, wagtende wêreld in. klein, weerlose kind. Uit tydloosheid tot in ons menslike, wagtende wêreld in.



- Deon Meiring

bottom of page