Indien jy alreeds op vakansie is hoop ek dat jy ten volle kan afskakel en lekker rus! Ek het die week gedink aan woorde wat ek al baie keer gebruik het: "Ek kan nie wag om op vakansie te gaan nie!" Daar is iets onskuldigs in die woorde maar ook iets wat die donkerkant van ons kultuur verklap.
Ongeduld.
In die ritme van ons besige lewens, word die eenvoudige daad van wag dikwels as 'n vermorsing van tyd beskou. Ons is voortdurend op pad, jagend na die volgende mylpaal, die volgende doel. Ons kan nie wag nie, ons móét hê. Die herders in die Kersverhaal is geen uitsondering. Nadat hulle die nuus kry jaag hulle na Maria toe. "En hulle het met haas gegaan..." Luk 2: 16. Dan gebruik Lukas die woord “maar” sodat hy kan sien hoe anders Maria reageer op dieselfde nuus. Vers 19 sê, "maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.” Die openingstoneel van die Kersverhaal is gelaai met mense soos Maria wat nie haastig is nie maar kan wag. Dink aan Simeon, Anna, Sterrekykers, Josef, Johannes, Elisabet, Sagaria en die lys gaan aan!
Dan is die eerste woorde aan Maria: “Moenie vrees nie…” Daar is 'n direkte verband tussen vrees en die spoed waarmee ons leef. Wat doen vrees? Dit neem my dadelik weg van die plek waar ek is! Ek skep eerder my eie toekoms, kry my lewensmaat, en werk my eie heil uit. Ons is maar soos Abraham, verwek ons eie kinders want dit is onmoontlik om te so lank te wag vir iets!
In 'n wêreld wat ons aanmoedig om voortdurend te doen, is die gawe van wag 'n radikale daad. Dit is 'n uitnodiging om stil te staan, om te luister, om te wees. Om te wag is om ons verlangens te verdiep, om geduld te kweek, en om onsself oop te stel vir die onmoontlike. Wanneer ons wag, laat vaar ons die behoefte om die toekoms te beheer. Ons vertrou dat daar 'n groter plan is, 'n tyd en 'n seisoen vir alles. Dit is in hierdie wag dat ons 'n lewe van die onmoontlike kan begin leef – 'n lewe waar hoop, liefde en geloof floreer.
Lekker rus!
- Theo Geyser