top of page

Advent: Blydskap



Dit is vir my so lekker om te sien hoe opgewonde en bly my kinders raak hierdie tyd van die jaar, veral my seuntjie Luther. Dit is sy verjaarsdag in Desember en ook natuurlik Kersfees.

Daar word van so begin Oktober af ‘n lysie gemaak van die persente wat hy graag wil hê. Hierdie jaar, bo aan die lys, vir Luther, ‘n mier kolonie kompleet met ‘n koningin. Hy soek graag die spesie Camponotus cosmicus.

Ek dink ek wou ‘n watergeweer gehad het toe ek nege geword het.

Kinders se vreugde is sonder perke en wanneer hulle opgewonde is, wys hulle hele liggame dit. Hulle sal op en afspring, arms in die lug gooi, en rond dans.

Ons is egter so ietwat anders. Ek dink nie ons maak veel meer lysies van wat ons wil hê vir Kersfees nie: “Seker maar ‘n bottel Whiskey of iets… uhm, ek weet nie regtig nie?”, murmereer ek, terwyl ek my skouers optrek.

Na die lewe ons so paar houe gegee het raak ons nie meer so maklik bly nie en versmoor vreugde stadig onder rekeninge, bekommernisse, en politiek. Tog, is Advent, met al haar paradokse, ‘n tyd van vreugde en dit boonop in die hoogste hemele!

Vreugde is ‘n besonderse kenmerk van die Christen kerk. Kerke sing en vier fees al vir millenia. Dit is ook noemenswaardig dat daar geen klaagliedere in die Nuwe Testament opgeteken is nie. Dit beteken nie dat die kerk nie swaargekry het nie. Inteendeel, het hulle net ‘n manier gehad om hemelse vreugde te ken binne in aardse swaarkry. Paulus skryf sy groot vreugde brief aan die kerk in Filipense van nêrens anders as vanuit die tronk nie, ‘Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!’.

Kom kuier Sondag saam vir die laaste diens van 2019 wanneer ons die tema van vreugde uitpak. 10:00 in Stellenbosch by die Protea Hotel, en 18:30 in Woodstock by die Old Biscuit Mill.

bottom of page