top of page

Geliefd: Geneem



Om ons geliefdheid waarlik te eien moet ons eers ook besef dat ons individueel gekies en geneem is deur God.

Hierdie sin kan dalk rillings by jou ruggraat laat afgaan, dit ruik na iets soos ‘n sekere groep mense wat dink hulle is meer spesiaal en beter in God se oë as ander. Ons land se geskiedenis lê vrot besaai met mense wat hierdie mentaliteit gebruik het om lyne te trek tussen bevolkingsgroepe en rasse. Baie van ons het ook boonop persoonlike slegte herinneringe van tye waar ons nie gekies is nie – nie vir die sportspan of vir ‘n nuwe pos nie. Ons onthou tye waar ons nie uitgenooi is na ‘n feesviering nie of nie gekies is vir bevordering nie.

Dit is verseker nie wat hiermee bedoel word nie, inteendeel, ons raak hier aan ‘n groot en belangrike geestelike waarheid en paradoks: my gekosenheid beteken nie dat ander uitgesluit word nie. Om gekies te word deur God is iets radikaal anders. In plaas daarvan dat dit ander uitsluit, sluit dit hulle in. In plaas daarvan dat dit ander afmaak as minder waardevol, voeg dit eerder waarde toe aan hulle menswees.

Die groot geestelike uitdaging begin (en eindig nooit) met ons wat ons gekosenheid besef en aanvaar. Lank voordat enige menslike oë ons gesien het, het God ons reeds raakgesien en gekies. Die blote feit dat jy hier is, dat jy lewe, dat jy hierdie stuk lees, is bewyse dat God jou wil hê, dat Hy jou in die heelal inge-wíl het.

Hoe eien (en deel!) ons hierdie radikale aanneming wanneer ons omring word deur verwerping?

Kom kuier Sondag saam met my by die Protea Hotel in Stellenbosch om 10:00, en die Old Biscuit Mill om 18:30. Bring gerus jou vriende saam!

Pierre

bottom of page