top of page

Geliefd: Wees En Word



Hierdie Sondag begin ons met ‘n nuwe reeks by InVia. Hierdie was en is steeds die belangrikste tema vir my persoonlik om vas te hou. Dit vorm die absolute basis van my reis saam met Jesus.

Geliefd.

Ek is dalk die enigste een, maar ek is geneig om my waarde buite myself te soek. Die arme wêreld dra swaar aan my projeksies en verwagtinge. Ek verwag van die wêreld om my gelukkig te maak, om my te aanvaar, om vir my sekuriteit te bied, en my nou en dan so bietjie op te hemel. As ek nie versigtig is nie dan eindig ek in ‘n malle gejaag en angstige soeke na aanvaarding, na iets of iemand om vir my te sê:

jy is okay.

Tog kraak die arme wêreld en die mense rondom my gereeld onder die ongelooflike druk van my soeke en uiteindelik tuimel alles heeltemal inmekaar. As jy dalk ‘n bietjie soos ek is, volg daar ‘n diep teleurstelling in die lewe wat uiteindelik oorgaan na woede en selfs wraak.

St. Ignatius het gesê ons is gebore vanuit liefde, gemaak van liefde, en leef vir liefde. Hierdie is ons kernidentiteit, ons geliefdheid.

Dat God vir ons lief is, is alles. Ons vind dat die woorde van God by Jesus se doop, “Jy is my geliefde,” die woorde is wat eggo deur Jesus se hele lewe. Dit is die woorde wat die basis vorm van Sy bediening en Sy lewe.

Ek vind dat hoe dieper ek myself ingrawe in hierdie identiteit, hoe meer ek sit, my ore oopmaak en luister na dit wat God vir my sê, hoe ligter loop ek deur die wêreld. Dit gaan dan ook baie beter met die mense rondom my, so sonder die las van my verwagtinge.

Kom kuier saam vir die volgende vyf Sondae waar ek, Theo, en Frieda, oor hierdie tema gaan gesels. Jy is ook welkom om die fantastiese boek van Henri Nouwen, Life of the Beloved aan te skaf vir ekstra leeswerk gedurende hierdie tyd.

Sondae 10:00 by die Protea Hotel in Stellenbosch, en 18:30 by die Old Biscuit Mill in Woodstock. Nooi gerus jou vriende.

Genade en Vrede

Pierre

bottom of page