top of page

Ruswoorde: Paasnaweek


Maria het gestaan…

Vader, in U hande gee Ek my gees oor. - Lukas 23:46

By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. - Joh 19:25


'At the Foot of the Cross’ - Macha  Chmakoff, 1990's

'At the Foot of the Cross’ - Macha Chmakoff, 1990's

Een van die bekendste beelde en ikone in die Bybel is Maria wat in stilte onder die kruis staan terwyl Jesus besig is om te sterf. Waarom hierdie beeld? Waarna nooi hierdie beeld ons uit?

Hierdie mistiese beeld dui op soveel meer as vroomheid, simpatie of bewondering. Naas Jesus is Maria seker die belangrikste figuur in die Nuwe Testament. Sy weet hoe om Jesus te volg. Haar moederinstink weet wie haar seun is en sy is die perfekte voorbeeld van wat dit beteken om Jesus te volg. Sy volg Jesus tot aan die einde en dan wys sy ons hoe om te midde van die duisternis, voor God te staan.

Op die oog af lyk dit of sy alles mis - dit lyk of sy niks doen nie. Sy praat nie, probeer nie sy onskuld bewys nie, of om die soldate te keer om hom te kruisig nie. Simbolies staan sy in die tragiese tydsgleuf van lyding met die volle gewig van die kruis ook op haar. Sy is stil. Sy staan in vreeslose krag. Sy weier om weerstand te bied - kies om oor te gee.

Baie kustenaars het hierdie beeld heeltemal gemis. Hulle teken Maria uitgestrek op die grond, of histeries teen die kruis, of oorweldig met hartseer en hulpeloosheid. Hier is geen sprake van ‘n ineenstorting nie. Die teendeel is waar.

Sy staan. Waarom staan sy in stilte sonder om aksie te neem?

Sy ken van oorgee en laat gaan. Sy het heel waarskynlik self vir Jesus die aandgebed van Luk 23:46 (ook Ps 31:6) geleer waarmee die ou Rabbyne hulle kinders leer bid het.

Ons gesels Vrydag oor hierdie plek – en hoe sy Jesus se voorbeeld aan die kruis volg deur oor te gee en te laat gaan.

En Sondag kyk ons hoe die “laat gaan” ‘n nuwe “laat kom” deur die opstanding aan ons skenk.

bottom of page