top of page

St. Francis Dag: Die Hond Is 'N Heilige



Every being is a spark of the Divine, or God. Look into the eyes of the dog and sense that innermost core. When you are present, you can sense the spirit, the one consciousness, in every creature and love it as yourself.

Eckhart Tolle

Ons vier hierdie week, saam met mense regoor die wêreld, die lewe van St. Francis, gebore in die twaalfde eeu en die Katolieke Kerk se Beskermheer van diere en die ekologie. Dit is ook ’n algemene gebruik vir mense om op St. Francis dag hulle diere - honde, katte, voëls, visse - te bring om geseën te word: ’n gebruik wat vir baie van ons vreemd voel. Vir St. Francis van Assisi was dit glad nie vreemd nie. Hy het die skepping en alles daarin beskou as die liggaam van God en homself as ’n integrale deel daarvan. Hy het sy liefde vir God uitgedruk deur sy verwondering en bewaring van die natuur. Hy is ook bekende vir sy woorde: “Deel die evangelie te alle tye, en wanneer nodig, gebruik woorde.” Hy het gepraat van Moeder Aarde en Broeder Son en Suster Maan, so asof alles heilig en niks uitgesluit is by die uitnodiging van God se seën nie.

Jeanne Goosen verwoord hierdie lewensbeskouing op haar egte manier:

Die hond met sy hare

wat die Here hom gegee het

is ’n heilige

Kyk hoe mompel hy in sy slaap

Hy verlaat hom nie op begrip nie

Hy krap homself in ’n supermark

en skaam hom nie daaroor nie

Tussen skares volg die hond die weg

van die guitige plassies

Die hond soek die son onbeskaamd op

Die hond soen sy medehond onvoorwaardelik

en met die eerste kennismaking

want alle honde is vriende, verwant aan mekaar

Die hond leef oop soos ’n blom

Hy word nooit moeg daarvan

om hond te wees nie

As ’n mens maar mens mog wees

soos die hond, hond

Ons gaan Sondag saam nadink oor ons aarde - ons geknelde en wonderbare planeet. Ons het baie om oor na te dink en te bely as mense, maar ook baie om oor fees te vier en ons te verwonder. Ons gaan dan juis na die diens so maak en saam met ons eie honde, asook honde sonder huise, gaan stap, as gesinne en individue (die honde is natuurlik ingesluit) saam nagmaal gebruik en lekker buite kuier met koffie, wyn en nog gawes wat God so mildelik deur die natuur aan ons skenk. Kom gerus, met of sonder jou heilige honde.

 

Wil jy weekliks ons nuusbrief ontvang? Teken hier in

 

bottom of page