top of page

'Trust Fund Babies', Die Hele Lot ... Van Ons


Ons vier Erfenisdag hierdie week in Suid-Afrika, al gaan die dieper betekenis daarvan meeste van ons verby omdat dit eintlik mos maar Braaidag is. Erfenis behoort egter nie net 'n interessante storie om die vuur te wees vir jou as individu en vir ons as Suid-Afrikaners nie, maar 'n onontbeerlike gesprek vir die erfgename van Christus.

Rabbi Harold Kushner sê ons leef op twee maniere: óf as gevangene van ons verlede óf as argitek van ons toekoms en dan sê hy verder iets wat my diep laat dink oor my geloofslewe en die manier hoe dit gestalte vind in my alledaagse besluite:

A Christian defines himself as a Christian by what he believes; a Jew defines himself as a Jew by whom he belongs to."

Nie wat jy glo nie, maar Wie jy vertrou... waar jy hoort... wat almal van ons trust fund babies maak. Dis ons lot.

Die Bybel sê ons erfenis is onverganklik, onbesmet en onverwerklik ... om te erf moet daar 'n soort verbintenis wees, iemand se besondere guns (hoe onverdiend ookal) moet rus op jou, dis verniet, anders was dit 'n lening en iemand moes sterf vir jou om te erf, anders is dit 'n skenking.

So al het jy nog nooit iets geërf in hierdie lewe nie, weet ons almal eintlik wat dit is om te erf. Ons weerhou meestal net hierdie aardskuddende nuus van mekaar omdat die volle implikasies daarvan ons so wakker sal skud dat die skrale erfenis (van geld en goed) wat verganklik, besmet en verwerklik is dan nie meer aanloklik sou lyk vir enigiemand nie en ons minder sou deelneem aan hierdie slaapwandelresies na oënskynlike sukses en roem en mag en aanvaarding. 'n Resies waarin meeste van ons met tyd baie effektief geraak het:

“It reminds me of that old joke- you know, a guy walks into a psychiatrist's office and says, hey doc, my brother's crazy! He thinks he's a chicken. Then the doc says, why don't you turn him in? Then the guy says, I would but I need the eggs...”

Woody Allen


Ons ware erfenis lê nie in identifikasie nie, maar in transformasie. Identifikasie met enigiets skep waanglorie, dringendheid, angs, besitlikheid. Dit skep mure en grense, ‘n “turf” wat jy moet verdedig, angs dat mense jou sal stop om te kry wat jy "verdien".


Dit lê nie in aanspraakmakerigheid nie, maar in genade. Dat die lewe 'n geskenk, en nie 'n gegewe is nie, is maak-of-breek. Genade is om te kry wat ons nie verdien nie. Barmhartigheid is om nie te kry wat ons verdien nie.


“Die geboorte van ‘n reg beteken altyd die afsterwe van ‘n vryheid. Moet nooit as ‘n reg eis wat jy as ‘n guns kan vra nie.” Churton Collins

Ons ware erfenis lê nie in apart-heid nie, maar in eenheid. En nie die gehoorsaamheid aan eiesoortigheid wat ons dikwels vir eenheid aansien nie. Om te bestaan in besonderhede, om die verskille en eienaardighede tussen ons te leer vier en verweef - nie om soort-gelyk (soort soek soort) te word nie.


"We exist in particularity. The art is not to fight the particularity, the art is to fight the apartness. The art is to weave together the particularity." Cynthia Bourgeault

Dit wat onverganklik, onbesmet en onverwelklik is, is jou ware erfenis. En enigiets wat nie dit is nie, is nie werklik jou erfenis nie. Dis iets wat jy beërf, nie verwerf nie.

Miskien is dit hoe die nuwe hemel lyk waarvan ons altyd by begrafnisse gesing het:

Ek sien 'n nuwe hemel kom... alles wat skei sal verdwyn...

Leestekens

Laat my weer behoorlik hoort,

laat my terugaard in hierdie nasie,

as dit so u wil is.

Een ding weet ek seker:

niks kan my skei van my klanke nie,

dié wat al hoe klinkender

u diepgaande dinge, Heer, wil bewoord,

soos niks kan verhoed dat ek herbore word

met elke nuwe komma

tot my verewiging in 'n laaste dubbelpunt.

Sheila Cussons

bottom of page