hou bene hou, dis November!




Them bones them bones ... is lam hierdie tyd van die jaar. Droë bene. Ou bene. Maar in plaas van inmekaarsak en op ons knieë val (die mens se lyf is mos eintlik gemaak vir kniel), struikel ons aan. En lyk meeste van ons soos Matthews (Loop-en-val) Motshwarateu, daai langsafstandatleet wat gekenmerk is deur sy unieke hardloopstyl. Behalwe, myne is nie so uniek nie. Classic case of Novemberitis. Ek lees (en vertaal vry): Novemberitis is 'n periodieke kondisie veroorsaak deur 'n jaarlange aaneenhoudende opbou as gevolg van 'n ononderbroke patroon van fisiese en/of emosionele arbeid. Diegene wat daaraan ly wys tekens van sosiale-filter gebrek, taktloosheid, lostongsindroom en 'n geneigdheid om in ongesonde gewoontes te verval, somtyds sjokolade ... meestal wyn. Dis seisoenaal, nie terminaal nie.


Hierdie "terapeutiese, tegnologiese, verbruikersmilitarisme", soos Walter Brueggemann dit noem, wat ons geskep het en veronderstel was om alles te kan beter en vinniger en gelukkiger maak en enige probleem op te los en alle ongemak in 'n ommesientjie uit die weg ruim, het nie gewerk nie. Nie hierdie jaar nie. Nooit nie. Ons tieners - in ons land en wêreldwyd - kan dit beaam. En miskien is die "grootmense" nie veel anders nie, ons het net al meer ondervinding in wegsteek, doodvee, begrawe.


Ons gaan Sondag gesels oor 'n baie lewendige verbeeldingryke profesie oor uiters dooie dinge in Esegiël 37. Hoekom hierdie skrifgedeelte in hierdie tyd van hierdie jaar? Dit klink soos 'n scene uit 'n zombie movie. 'n Klomp dor bene lê daar in 'n laagte. Geraamtes. Klaar met hulle. Maar bene vertel stories en die storie gaan aan. En God praat met sy profeet, Hy noem hom "Mensekind" (ek is mal daaroor as God my "Mensekind" noem, dit laat my voel soos wat ek is), en Hy vra hom of hy dink hierdie bene kan weer lewendig word. En dis seker November, want die profeet antwoord, "Net U sal weet, Here." (Ek imagine so lekker vet oogrol na die kant toe).


En God sê vir hom, " Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!" En toe lê God senings en vlees op hierdie dor bene en trek vir hulle velle oor en toe is daar 'n beroering en die bene het nader gekom, elke been na sy been. Maar daar was nog geen gees in hulle nie, hulle kon nog net loop-en-val. En toe blaas God Sy gees in hulle en hulle word lewendig en staan saam soos 'n ontsaglike groot army.


Toe ek vir my pa vra of hy onlangs gepreek het oor Eseg. 37 (om bietjie tips te vang), sê hy "Them bones them bones"? Maar vir 'n tyd soos hierdie, so voel ek, hét ons bietjie profetiese verbeeldingskrag nodig. Ons het die Gees nodig om lewe in ons te blaas, want van geld en grond en goed alleen, sal ons omkom. Het ons omgekom. Ons is gemaak van stof én asem (gees). Ons kan nie leef in die een realm sonder asem uit die ander nie. Want dis een. Dis Een.


Ek lees nou die dag iemand skryf op Netwerk 24 se kommentaar (wie lees dit nog?) na 'n berig van nóg 'n pragtige jong tienermeisie wat haar lewe geneem het: "Mense is hartseer. Mense was nog nooit so hartseer nie. Daar is meer gesing en gedans tydens die Tweede Wêreldoorlog as nou."


Ek was ook, voor ek 'n tannie was, 'n tiener. Al word ek veertig, was ek ook eens veertien. En vyftien. En toe, deur die genade alleen, ook sestien. 22 November sal elke jaar - sedert 1997 al, vir my 'n spesiale betekenis inhou. Dis die dag wat ek vir die eerste keer erken het dat ek nie op my eie kan nie. Ek vergeet of ontken dit meestal steeds die ander 364 dae van elke jaar, maar dit was die dag wat ek opgeneem is vir depressie en nie-verder-kan nie, 'n dag voor my eindeksamen van daai jaar sou begin. Die dag wat ek opgeneem is in die hospitaal - maar dis vir siek mense? - en behandel is vir iets wat ek glad nie verstaan het nie. Net ervaar het. Nie kon verduidelik nie. Die dag wat hierdie dor bene, soos 'n sak bene deur haar pa opgetel is, soos 'n lyk in die kar gelê het die 6 ure Kaap toe en met tyd, deur die Gees van die lewende God - dank die Here vir goeie medikasie en "Losing my religion" van REM - nuwe asem gekry het. Die dag wat hierdie "mensekind" nie meer op eie kragte kon staatmaak nie, nie meer op haar eie bene kon staan nie, nie meer die geraamtes in die kas kon los nie...


Sedertdien is elke oggend wat ek wakker word en kan hóór en síén, soms selfs uit-sien, 'n wonderwerk. 'n Wonder wat ekself nie kon uitdink of komponeer nie. Ek weet hoe dit vol om 'n bondel dor bene te wees én ek weet hoe dit voel om asem ingegee te word en terug in die lewe geblaas te word.


Richard Rohr skryf:

There are three things in life of which you can be sure:

1.That God loves you unconditionally;

2. that suffering will come, and

3. that in the midst of your suffering a hand will reach toward you, seeking to pull you to the side of joy once more.”


Dit klink soos die zombie-profesie se begin (Eseg. 37:1):

1. Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here

2. en my neergesit in die laagte;

3. en dit was vol bene... to be continued


En dis natuurlik die groot juk, die groot teleurstelling van die lewe in en saam met Christus. Ons kan op 'n manier nog kleinkry dat God ons onvoorwaardelik liefhet (al is dit reeds 'n groot pil om te sluk). Maar ons wil nie hoor dat ons ook gaan swaarkry en klippe kou nie - is dit dan nie hoekom ek 'n Christen geword het nie: die Gos-pil en goeie brandversekering vir die hiernamaals? ... So meeste van ons loop-en-val so weg vir die seer en swaarkry. Ons koes-koes so deur die laagte. Ons sal, trouens, eerder dood wees as om te be-leef wat ons voel.


Want hoekom pyn? Hoekom lyding? Selfs Job kry nie 'n antwoord nie, en Job is die toonbeeld van morele ontwikkeling in die Hebreeuse geskrifte. Hy is dieselfde storie as Jesus. Hy smeek vir 'n antwoord, en oplaas (aan die einde van sy tou) vertrou hy. Toe hy weet God neem hom "ernstig" op en dat hy deel is van die gesprek. Jesus word later die antwoord in sy passie, dood en opstanding. Maar dit is eintlik dieselfde antwoord: God kan vertrou word. Die wêreld is steeds in Goeie Hande. Ons word gered deur gehoor te word en ingesluit te word in 'n kosmiese gesprek. Ons (en hierdie besef het my gered as sestienjarige) het nie regtig antwoorde nodig nie; ons het nodig om te weet dat ons ernstig opgeneem word as deel van die dialoog. Dat iemand ons hóór en steeds sy/haar hart op ons verloor. Na ons luister en ons nogtans liefhet. Maar ons kan dit net in retrospek weet, na die seer en swaar. Ons kan dit nie teoreties of teologies of vorentyds weet nie. Ek kan nie iemand anders se huiswerk afskryf nie. Ek kan net geïnspireer word deur hulle, en dis 'n goeie begin.


God weier om intellektueel "gedink" te word en word slegs geken in die passie en die pyn van dit alles, wanneer issues te groot is vir die kop en net in die siel kan pas. Daar word vertel dat Sint Catherine van Genoa vir Jesus gevra het "Hoekom, Here, is daar so baie pyn op aarde?" En Jesus het geantwoord: "Catherine, as daar enige ander manier was, sou ek al lankal daaraan gedink het." Dit lyk of daar geen ander manier is om te laat gaan van ons wapenrusting en skanse teen mekaar en om medelye te leer nie. Ons sal nie beheer oorgee tot ons na die grense van ons eie hulpbronne gelei te word en op mekaar móét staatmaak nie!


Die woorde wat gesê is oor Sint Franciskus van Assisi bly my altyd by: "He had seen too much beauty. He hurt when others hurt." 'n Terrible beauty as daar nou al ooit 'n paradoks was wat te groot vir die kop is ... net in die siel pas.


En ons God is so:


The enfleshment and suffering of Jesus is saying that God is not apart from the trials of humanity. God is not aloof. God is not a mere spectator. God is not merely tolerating or even healing all human suffering. Rather, God is participating with us—in all of it—the good and the bad!


Richard Rohr


Abraham Heschel sê: "Die God van Aristoteles is die Onbeweeglike Beweger (the Unmoved Mover), maar die God van Israel is die mees geraakte Beweger (the most-moved Mover), 'n God wat deur sterk emosies geraak word, 'n God wat liefhet, wat diep deernis vir ons het, wat kwaad word oor ongeregtigheid, wat teleurgestel word deur 'n gebrek aan lojaliteit." Om 'n regte mens te wees, is om meer soos God en minder soos 'n hoop bene (of 'n hoop bene wat beweeg: 'n masjien) te wees. Om in God se beeld geskep te wees, om 'n regte mens te wees, is om in staat tewees om blydskap en pyn te voel, liefde en verlies, triomf en teleurstelling. Dit beteken jy's braaf genoeg om al jou wapenrusting af te haal en jouself kwesbaar te maak vir al daardie gevoelens. Ook vir skuld en skaamte, as jy iets verkeerd gedoen het. Om dit te kan erken, dit alles voor God te plaas, is om jou menslikheid te verkondig, dit te eien, dit te vier. En te ontdek, vir jouself te ontdek, dat 'n hoop bene waarin die Gees geblaas word bene van hoop kan word.


Daai bene daai bene ... daai bene sal meer as hou. Hulle sal meer as loop-en-val. Hulle sal dans en hardloop van haastigheid om die Goeie Nuus te bring en ander omsirkel om Liefde te maak.



Good Bones

Life is short, though I keep this from my children.

Life is short, and I’ve shortened mine

in a thousand delicious, ill-advised ways,

a thousand deliciously ill-advised ways

I’ll keep from my children. The world is at least

fifty percent terrible, and that’s a conservative

estimate, though I keep this from my children.

For every bird there is a stone thrown at a bird.

For every loved child, a child broken, bagged,

sunk in a lake. Life is short and the world

is at least half terrible, and for every kind

stranger, there is one who would break you,

though I keep this from my children. I am trying

to sell them the world. Any decent realtor,

walking you through a real shithole, chirps on

about good bones: This place could be beautiful,

right? You could make this place beautiful.

Maggie Smith


Geskryf deur Frieda van Heever



  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA