top of page

Wysheid Vir Die Lewe... Tot Almal Se Beskikking, Niemand Se Besitting



Die woord “wysheid” het al amper so ’n antieke, stowwerige klankie gekry. Die beeld van ’n ou mens (meestal ’n man) met baie plooie en min hang-ups en ’n lang grys baard kom ook instinktief by ’n mens op. Iemand wat nie noodwendig bygehou het met die tye nie, maar definitief met die ewigheid.

Wysheid is egter veel meer as dit. Wysheid word in Spreuke beskryf as ’n kunstenaar, ’n vak-“man”, ’n vaardige werker met toegepaste kennis. Die oorspronklike Hebreeuse term vir wysheid is Hokmah en die geslag van hierdie woord is vroulik. Die Engelse Bybel praat van Lady Wisdom. Hierdie wese word beskryf as dansend en skeppend, langs God, en verweef in die materie van die heelal. Sy is deel van God, onafskeidbaar deel en was van die begin af saam met Hom. Sy bring verwondering waar sy raakgesien en erken word. Sy roep alle mense, sonder uitsondering, om aandag te skenk!

Sy laat mens goed sien wat meeste mense miskyk, sy gee wonderbaarlike insig, sy is ’n onsigbare kreatiewe mag in die heelal wat mense kan lei in hoe hulle moet lewe, nie in teorie nie; in die praktyk van hulle lewens! Ons kan haar nie sien nie, maar soos swaartekrag, beïnvloed sy alles wat ons doen. Sy is nie ’n morele kode nie, maar ’n skeppende mag wat die hele skepping tot ware vervulling wil bring. Enige iemand kan ’n ontmoeting met haar hê, enige iemand kan saam met haar skep, soos saam met ’n ontwerper. Sy is veel meer as boekekennis, sy is ’n vaardige kunstenaar wat uitstaan in haar ambag. Sy is geïnteresseerd in hoe jy leef met wat jy leer. Enige iemand kan haar liefhê en bewonder en met haar saamwerk, maar niemand - selfs nie een - het haar in pag nie. Niemand kan haar besit nie. As jy by geleentheid wys of goed optree, of selfs ’n gewoonte daarvan maak in hierdie lewe, tap jy bloot uit of plug jy in by hierdie Wysheid.

Wysheid is ’n saak van lewe en dood juis omdat dit soveel meer as kennis is. Wysheid is nie ’n buitemuurse studie nie; dit is alleenlik vir dissipels. Vir toegewyde navolgelinge wat daaruit wil leef, veel meer as daaroor leer. Dit behoort aan ’n dimensie wat nie bereik kan word deur studie alleen nie. Dit gee insig in die betekenis van jou lewe, in sy konflikte en gevare, in sy kreatiewe en destruktiewe magte, in die grond waaruit dit kom en waarheen dit moet terugkeer.

 

Wil jy weekliks ons blogs ontvang? Teken hier aan

 

bottom of page