top of page

vrou salf Jesus se voete


Joh. 12:1-8


"Ses dae voor die paasfees kom Jesus weer in Betanië aan, waar Lasarus-hulle gebly het. Die mense daar het ’n spesiale ete vir Jesus gereël. Marta het hulle bedien en gesorg dat hulle genoeg het om te eet. Lasarus het saamgeëet.


Maria bring toe ’n houer met duur olie wat van nardus gemaak is daar aan. Dit het soet en baie lekker geruik en is as ’n soort parfuum gebruik. Sy gooi toe sommer heelwat van die lekker olie oor Jesus se voete uit. Daarna vee sy die oortollige olie met haar hare van sy voete af. Die hele huis het lekker geruik van die heerlike olie. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.” Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp.


“Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.”

Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef."


Vandag se skrifgedeelte dien as 'n lieflike prelude vir die Passie (die kruisdood) van Jesus. Hy is terug in die huis van sy vriende Martha, Maria en Lasarus, wat Hy onlangs uit die dood opgewek het. Dis dalk sy laaste oomblikke van geselskap en saamwees voor die res van die grusame gebeure van die week gaan ontvou. Eie aan haar karakter, is Martha weer die voorvattergasvrou en Maria, die "lui" contemplative, bring 'n duur houer olie daar aan en gooi dit alles (of meeste daarvan) oor Jesus se voete uit en vul die hele huis met die lieflike geur van hierdie duur parfuum. Dis 'n teken van groot opofferende liefde, maar dis asof niemand hulle steur aan simboliek en sintuie nie. Jesus wou seker sê "Word wakker en ruik die olie!" maar die dissipels en dan veral Judas staar hom blind teen die onmiddellike - die monotêre waarde - en gebruik dan sommer 'n oënskynlik edele motief om sy eie geldgierigheid te probeer vermom.


Jesus sien (en ruik!) dwarsdeur elkeen se motiewe en neem sintuiglik en met sy fyn ontwikkelde geestesneus waar dat hierdie daad van absolute verkwisting eintlik simbolies is van 'n allesuitgietende liefde en Hy interpreteer dit as 'n simboliese salwing vir sy graf - 'n salwing wat Hy nooit sou ontvang nie, omdat Hy gesterf het as 'n misdadiger. En dan sê Hy hierdie woorde wat ons maklik as sinies sou kon afmaak: "Julle sal altyd armes by julle hê, maar Ek gaan nie altyd hier wees nie." En ons wéét hoe voel Jesus oor armes en uitgeworpenes en weduwees en kinders en almal wat swaartrek onder die lot van die sisteem. So Hy bedoel natuurlik nie dat hulle nie moet omgee vir die armes nie. Jesus wéét: hoe jy jou oomblikke deurbring, is hoe jy jou lewe gaan deurbring. Hy weet Maria sal net so onvoorwaardelik omgee vir die armes soos vir Hom (Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes, het julle dit aan My gedoen - Matt. 25:40). Hy weet ons kan nie vanuit 'n onbesoedelde plek omgee vir dié in nood as ons omgee nie vanuit ons liefde vir God kom nie. En vice versa!


Jesus laat almal om ons, ook vir jou en my, wat vandag nog hierdie storie lees en onthou, met hierdie boodskap: 'n goeie daad wat opreg en betyds gedoen word, is soos 'n lieflike reuk wat miskien nie gesien kan word nie, maar wat mens nie kan ongedaan maak of ignoreer of ont-ruik nie.


Vir gesinne (of wie ookal voel hulle wil dit saam doen)


In Heilige Week deel ons elke dag ‘n aktiwiteit of twee wat julle as gesin saam kan doen om hierdie laaste week van Jesus meer relevant vir almal van ons te maak – ook ons kinders. Ons besef ook ons sal dalk nooit weer ‘n geleentheid soos hierdie kry waar almal by die huis moet bly nie. Geniet dit!


1. Speletjie:

· Kry ‘n paar dinge met verskillende reuke en plaas dit onder ‘n doek dat niemand kan sien wat dit is nie. Byvoorbeeld:

- gesnyde appel of enige vrug;

- takkie roosmaryn/lavender of enige plant wat lekker ruik;

- koekie seep;

- kaneel;

- blou kaas of knoffel of asyn (of enige iets wat nie lekker ruik nie)

· Sit in ‘n sirkel of om ‘n tafel. Almal word geblinddoek (behalwe die een wat die geheime items gaan uithaal). Haal items een vir een uit en laat elkeen ‘n beurt kry om dit te ruik, en as almal klaar geruik het, te raai wat dit is.


· Vra:

- Watter item was vir jou die lekkerste om aan te ruik? Hoekom?

- Watter item was die minste lekker? Hoekom?


2. Skrifgedeelte:

('n Lekker oefening is dalk om die storie vir jou kinders of jouself te vertel in jou eie woorde en om vrae te vra oor die storie. "Wat dink jy het Martha vir Jesus gemaak om te eet daai aand? Hoe dink jy het Lasarus gevoel om weer te lewe nadat Hy dood was? Skets die prentjie en gee mekaar ruimte om die verbeelding vrye teuels te gee, sonder feitelike korrektheid - dis nie Bybelstudie nie; dis 'n verbeeldingsoefening om jouself te verbeel saam met Jesus, in sy leefwêreld, soos wat Hy steeds met ons doen.)


3. Aktiwiteit:

Gebruik enige olie wat lekker ruik waarmee julle mekaar gaan salf (kan selfs badolie, gegeurde olie vir jou ‘insence burner’, of jou haar-olie wees. Jy kan kook- of coconut-olie lekker laat ruik deur sommer bietjie parfuum in te spuit.)

Gebruik jou eie woorde as julle mekaar salf:

"...(Naam), jy ruik vir my so lekker soos bv. (gebruik jou eie opregte voorbeeld) nartjies as mens dit afskil / uie as dit in gesmelte botter val in die pan / reën as dit begin val ...

Jy laat my veilig / geliefd / by die huis / nuut / soos myself (of watookal emosie hierdie reuk by jou opwek) voel.

Ek is so bevoorreg om jou te mag ruik in my lewe.


Geskryf deur Frieda van Heever

bottom of page