top of page

Op 'n punt van Wanorde


Daar is ‘n vaste patroon waarmee God transformasie bring: Orde, wanorde en her-orde. Selfs wanorde was nodig om die skepping tot stand te bring:


 “…en die aarde was woes en leeg…” Gen 1:2


Dit is duidelik dat Jesus hierdie Genesis-patroon vir sy dissipels aanbeveel: “Die koringkorrel moet eers VAL en dan STERF…”  Hierdie is nie een of ander motief vir bekering wat ‘n bekeringstransaksie voorstel waar ons verkeerde gedrag inruil vir die hemel nie.


Dit het te doen met ‘n daaglikse sterf en hoe om ten volle teenwoordig te wees om Jesus in die hier-en-nou te kan leef. “Then you’ll be where I am, ready to serve at a moment’s notice.” Joh 12:26


Die ego en ons selfgerigte bestaan keer ons om hierdie belangrike bewuswording in ons lewe te kweek. Dit vra dat iets in my en jou moet doodgaan.


Die pad is af en nie op soos wat baie spiritualiteite belowe nie.  Ons koop in die groot leuen dat as ons vinnig iets reg doen soos baie bid, vas of moreel goed is, dat God ons ook vinnig sal seën. God se seën kom eerder omdat wanorde ons die gawe gegee het om te kan val en die wêreld beter te sien soos wat God dit sien.


Hoe val ons? Deur te los waaraan ons vashou.


Ons gesels Sondag oor hoe ons kan losmaak van dit waaraan die ego altyd vaskleef. Die pad is soos die Skeppingsverhaal, terug na die “woes en leeg” van jou innerlike wêreld. Daar verloor ons die greep van selfgerigtheid met God en ontvang die gawe van ‘n nuwe orde waarmee Hy binne ons skep. Dan word dit maklik om my lewe vir ander te gee. Rumi sê dit mooi:


 “Having died to self-interest, she risks everything and asks for nothing. Love gambles away every gift God bestows”


Geskryf deur Theo Geyser



bottom of page