top of page

Werk: Vir Wie?



Toe ek klein was, was daar ’n sêding op die speelgrond waarna baie keer gegryp is as iemand jou teen jou sin voorsê: “Jy’s nie my baas nie, net Jesus is my baas”. Selfs op ’n speelgrond (eerder as ’n werkgrond) was daar al idees oor baasskap en Christenskap.


…‘God will take care of you – doesn't he take care of the birds? […] What are you worrying about?’ […] So they say: ‘Oh yes that's all very well, but he was the boss's son, see?’” – Alan Watts


Ek vermoed dit het iets daarmee te doen dat werk soms te veel soos werk voel. As ek tog net die Lotto kon wen. Of my eie, wegholsukses besigheid kon begin. Op mý terme. Of as daar minstens net iemand anders, soos ChatGPT, was om daai aaklige email namens my te tik. Selfs hierdie wens is nie ’n nuwe tendens nie. In die vroeë 1990’s is daar al onrusbarend hieroor gefilosofeer:


By entrusting this burdensome intelligence to machines we are released from any responsibility to knowledge, much as entrusting power to politicians allows us to disdain any aspiration of our own to power. – Jean Baudrillard, The Transparency of Evil, 1990


In Genesis 3 kry ons al die sweet van ons aangesig – of in sommige vertalings doodgewone harde werk. Maar maak dit van God my baas?

As dit is wat ek moet doen vir ’n lewe, is ek op God se payroll? Of op die maatskappy s’n?


Soms kondig mense mismoedig aan: “Nou ja, terug soutmyn toe”. Ek moes oor soutmyne oplees om dit te verstaan. Kortliks was dit ’n uitmergelende werksplek, soveel so dat dit mense se gesondheid en lewensverwagting ernstig geknou het. Boonop kom sout en salaris van dieselfde oorsprong.


Dis wat werk om oorlewing so stresvol kan maak. As ek heeltyd moet wonder of ek my sout werd is. Ook as ek die presiese ding wat ek doen om oorlewing sieldodend vind. Sieldodend in die sin waar dit wat sleg is vir my siel ook sleg is vir die res van my wese – my liggaam ingesluit. Dis die soutmyn.


Vir wie en ten koste van wie doen ek dit nou eintlik? Die teoloog Leonard Sweet gebruik salm wat stroomop swem en letterlik sterwend by hulle bestemming aankom as voorbeeld. Toe wetenskaplikes by party salm die kliere wat streshormone afskei verwyder, kom die salm blakend gesond anderkant aan. Dis toe nie die uitdagende swem stroomop wat die doodskoot gee nie, maar die spanning daaroor.


As ek myself ooit in ’n salm se skoene bevind. Daar waar stroomop swem die ding is wat gedoen moet word, dan help dit my nie ek bemoei my met die rigting van die stroom nie. Daai las kan ek maar los.



Maak dit dan ’n verskil vir wie ek dit doen?



“When you are in a creative endeavour, in that wonderful fever […] happiness doesn't enter it. You are ready to suffer.” – Slavoj Žižek


Hoe ek vir God in my werksake ken gaan bepaal hoe ek my werk vir God aanpak. Ek ken nie vir God op ’n afstand soos ’n baas of slawedrywer nie. Ook nie as verskoning om agteroor te sit nie. Eerder as die een wat sorg vir my en besorg is oor my. Selfs in my alledaagse take. Natuurlik is  dit vir myself ook, maar al die spanning daaroor kom my nie toe nie.


Dis hoekom dit die moeite werd kan wees om dit vir ander ook te doen. My gemeenskap, gesin, gemeente – danksy my werk kan ek ook bydra tot hulle lewens. In sommige werke is dit selfs duideliker: 


Geneeskunde wat lewens red en verbeter, mense wat werk vir die aarde se behoud, of die aarde bewerk vir ander se kos. Tog weet ons juis hierdie soort beroepe is nie vanselfsprekend sorgvry nie. Die woord wat dikwels in die Nuwe Testament as sorge of kommer vertaal word het te doen met dit wat jou uit-mekaar trek. Jou verdeeld in jouself maak. Met ander woorde – selfs dit wat ons vir mekaar doen kan iets word wat ons uitmekaar laat val.


Die voorkoming of die genesing daarvan is versorging. As my werk vir God, vir myself en vir ander is, beteken dit ook dis nie gelyk aan God, aan wie ek is of aan ander nie. Daarom kan ek versorging vind by God, by myself en by ander. Al is die werk nooit heeltemal afgehandel nie.


Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. - 1 Korintiërs 3:9


Wynmakers praat graag oor hoe elke wynmaker in hulle leeftyd net ’n beperkte aantal seisoene kry om die wyn te maak wat hulle kan. Dis waar vir ons almal. As ek kyk na die oesjaar op ’n wynbottel probeer ek om te onthou dat daardie jaar ook vir my gegee was. Alles daarvan – die vreugde en die swaarkry. Ek het die geleentheid gehad om dit te beleef.

As ek God se saailand is, dan sien ek ’n sekere hoeveelheid oeste saam met God. ’n Oes is lewenskragtig. Iets om te vier. Dis ook harde werk en onvoorspelbaar.


Soos met ’n oes is werk bedoel vir die lewe eerder as ten koste daarvan. Solank dit nie verwar word met die lewe self nie. Dis hoekom ons Baudrillard se waarskuwing teen die begeerte om die las daarvan heeltemal af te skud ernstig kan opneem.


Die gebou in die vers hierbo herinner my aan die immer-behulpsame oorsprong van die woord “kontemplatief” – in die tempel. Om te ontdek hoe alles wat ek doen in die tempel is. Met ander woorde – daar waar God is, saam met God. So dalk eerder “saam met wie?” as “vir wie?”.


die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie.” – Jesaja 29:16


Daar is ’n gevaarlike perfeksionisme in die begeerte om werk vir eens en vir altyd af te handel. Om daarmee klaar te speel. Die beeld van die pottebakker help ons om vrede te maak met heelheid in die onklaarheid. Vandag nog sal mense wat skep met klei genoegdoenig daarin vind om verras te word deur wat die klei word. Selfs die kere wat dit effe onklaar lyk.


Dis hoe ons skep saam met die Een wat skep. Deur saam met God na ons werk terug te keer én daarvan terug te tree.


- Deon Meiring

bottom of page