top of page

'n paar sente


“Jesus het ’n rukkie lank regoor die kollekteborde in die tempel gaan sit. Hy kyk toe wat die mense vir die tempel ingooi. Daar was ryk mense wat sommer baie geld ingegooi het. ’n Baie arm vrou, wat nie meer ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, kom gooi toe twee stukkies kopergeld in. Dit was so te sê niks werd nie.

Jesus roep toe sy dissipels. “Luister nou mooi wat Ek vir julle sê. “Het julle daardie arm vrou gesien wat ‘n paar sente ingegooi het? Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eens mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets mee te koop om te eet het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.” Mark 12:41-44 (Die Boodskap)


Hierdie dag was ‘n baie besige dag vir Jesus. Hy het baie gelykenisse vertel en ook in die tempel die mense gaan leer. Terwyl hy in die tempel was het hy gesien hoe ‘n arm weduwee haar laaste geldjies gee.


Ek onthou hoe ek as kind baie oor hierdie gebeurtenis gewonder het. Ek het gedink die weduwee was baie dom om haar laaste geld weg te gee – waarmee gaan sy dan kos koop?


Die vraag wat nou by my opkom is vir wie is ek lief genoeg om my laaste kos of noodsaaklike items (met die Corona is dit dalk hand ‘sanitizer’ of toiletpapier) aan weg te gee? Vir wie sal jy jou laaste goed gee? Ek neem aan meeste van ons se antwoord is vir die mense vir wie ek die liefste is… my kind, man/vrou, ouers.


Hierdie daad van die weduwee wys haar liefde vir God – dat haar liefde vir God groter is as haar vrees om dood te gaan van die honger.


Soms is dit makliker om fisiese goed te gee. Maar baie keer is ons bang om iets van onsself, dit wat regtig waardevol is, te deel met die mense naby aan my. Dalk is dit iets wat ons by die weduwee kan leer – dat ‘n manier om vir mekaar te wys jy is belangrik en ek is regtig lief vir jou, is om my diepste binnekant, die goed wat regtig waardevol is vir my, met ander te deel. En nie toe te laat dat vrees ons weerhou om lief te hê en liefgehê te word nie.


Geloofsoefening(e) vir die dag


Ons nooi julle uit om twee oefeninge te doen vandag – ‘n fisiese en emosionele gee.


  • Wat is waardevolle items van my wat ek vir iemand kan gee wat dit regtig nodig het? Soos jy dit uithaal, bedank elke item vir die vreugde of waarde wat dit jou gebring het en seën dit dan om vir die volgende eienaar ook vreugde te bring. Jy kan dit eenkant wegpak en na die Lockdown vir Hospice vat of Invia toe bring waar ons dit weer versprei na mense wat dit baie sal waardeer.


OF onderaan die epos heg ons ook die besonderhede aan van StellenboschUnite wat nou in hierdie tyd gesinne help wat geen inkomste kry nie.


  • Hoe kan ek iets van myself deel met die mense naaste aan my? Dalk van my diepste begeertes of vrese? Spandeer ‘n tydjie met die mens naaste aan jou. Raak bewus van jou vrese (om jouself te beskerm teen seerkry dalk) maar ook jou liefde vir die persoon. Besluit wat is vir jou die belangrikste: om ‘n lewe van liefde te leef (wat beteken ek moet risiko’s neem en gee) of om uit vrees te leef en niks van myse


Vir gesinne (of wie ookal voel hulle wil dit saam doen):


As deel van Heilige Week gaan ons elke dag ‘n aktiwiteit of twee deel wat julle as gesin saam kan doen om hierdie laaste week van Jesus meer relevant vir almal van ons te maak – ook ons kinders. Ons besef ook ons sal dalk nooit weer ‘n geleentheid soos hierdie kry waar almal by die huis moet bly nie. Geniet dit!


1. Speletjie:

Almal sit in ‘n sirkel of om ‘n tafel. Pak die volgende 10 items uit sodat almal dit kan sien (of enige items wat jy by die huis het).

  • Mes

  • Potlood

  • Skoene

  • Koeldrank

  • Sjokolade

  • Vuurhoutjies

  • Kombers

  • Selfoon

  • Hoed

  • ProNutro (of enige gesonde pap)


Ons speel ons is in die Lockdown gestrand op ‘n verlate eiland en jy mag net 2 goed kies wat jy mag saamvat om te oorleef. Gee almal ‘n beurt om hulle 2 items te noem en hoekom hulle dit sal neem.


2. Skrifgedeelte:

Luister die Live Video op Invia Stellenbosch se Facebookblad waar Wilma die gedeelte uit die Bybel meer visualiseer en kinders geleentheid kry om hulleself in die storie te plaas.

OF lees die gedeelte uit Mark 12 (bo-aan die epos) en laat kinders hulleself in die storie visualiseer.

Vra:

  • Wie was jy in hierdie storie? Dalk een van die dissipels, of die arm vroutjie, of net iemand daar naby?

  • Wat het jy vir Hom gesê?

  • Het Hy iets vir jou gesê of wat het Hy gedoen?

  • Hoe het dit vir jou gevoel om langs of saam Jesus te wees?


3. Aktiwiteite:

  • Ons is bevoorreg om alles te hê wat ons nodig het om in hierdie Lockdown veilig en gemaklik te wees – soos alles op daardie lysie met speletjie. Ons hoef nie te kies nie. Maar daar is baie mense wat nie alles het nie. Kan julle ‘n paar dinge opnoem wat ons het wat baie ander mense dalk nie het nie… (elektrisiteit, TV, internet, lopende water, kos ens.)

  • Kom ons gaan bietjie deur jou waardevolle items soos ons speelgoed / klere / sporttoerusting / boeke ens. Kyk watter van jou waardevolle items kan jy dalk weggee aan mense wat nie so bevoorreg is soos jy nie. Plaas dit in ‘n houer wat julle na die Lockdown vir Hospice kan gee of Invia toe bring sodat ons dit kan versprei na mense wat dit nodig het.

  • Dink aan wat ek van myself kan gee? Bv ek is goed met Wiskunde en kan dalk kleiner kinders wat sukkel met Wiskunde help, of met sport, of ek is ‘n goeie luisteraar en kan ander mense help deur na hulle probleme te luister; of ek is baie vriendelik en is maats met almal – ook met die kinders wat niks maats het nie, ens.


Geskryf deur Wilma Geyser.

bottom of page