top of page

IN SY ELEMENT: WATER



Ons gesels die volgende paar weke oor die werking van die Heilige Gees. Ons gaan kyk na verskillende beelde wat ons help om die Heilige Gees beter te verstaan en hoe God in en deur ons met sy Gees werk. Die beelde in die Bybel het een groot gemeenskaplike deler: Dit dui altyd op beweging. God skuif ons innerlike en uiterlike wêreld. Ons is op pad. 

Ons begin Sondag met die beeld van water.


Gen 1:2 begin met die volgende stelling: “Die aarde was woes en leeg, en die Gees van God het gesweef op die waters.” Die een vertaling sê dat daar chaos was, maar dat God wel teenwoordig was. Soms beteken die skynbare afwesigheid van die Gees – soos in chaos – die teenwoordigheid van die Gees, en soms is die skynbare teenwoordigheid van die Gees (wanneer ons dink Hy is teenwoordig), die afwesigheid van die Gees.


Om te verstaan hoe die Gees vloei kan dit help om te vra wat die vloei van die Gees keer. Johannes vertel ‘n verhaal om ons daarmee te help. In Joh 4 help Jesus ‘n Samaritaanse vrou om binne ‘n diep konneksie met Jesus anders oor God te dink. Sy word nie in ‘n kitsbekering volmaak en perfek gemaak nie. Sy gaan terug dorp toe en nooi mense om te kom kyk of Hy nie “dalk die Messias is nie”.


Haar kultuur, ras, en gewoontes verhoed haar dat die Heilige Gees deur haar kan vloei. Die etikette en  kulturele boksies verhoed haar om Jesus te sien vir wie Hy werklik is. Jesus het ‘n baie moeilike taak – hy moet haar in hom laat glo, haar vertroue wen, en haar help om deur al haar vooropgestelde idees te breek! Kyk deur hoeveel moet Jesus werk: Jood (vs9),  Mnr (vs15), Profeet( vs19) en dan Messias (vs29)! Dan keer haar teologie en verstaan van God haar om God te ontmoet. Jesus vermy die godsdiens debatte waarvoor ons so lief is, en wys dat godsdiens met ons lewe te doen het. Jesus praat eerder oor haar verlede, haar soeke na intimiteit met die vyf mans wat sy reeds gehad het. Hy loop ook nie weg soos ons nadat die gesprekke vasval of oneerlik word nie. Die gesprek loop so: Verklaring en misverstand (vs9), verklaring en misverstand (vs11-12), verklaring en misverstand (vs15), verklaring en misverstand (vs20). Binne ‘n diep dialoog en veilige hartspasies wys Jesus ook aan haar wie Hy werklik is.


Die Gees vloei in chaos, ongemaklike gesprekke, en gebruik ons verlede en verwonding om God se rivier na ander te laat vloei.


Geloofsgewoonte


Sit en bid met die beeld van water. Neem Johannes 4 en visualiseer die storie. Probeer beelde maak van alles wat Jesus sê. Visualiseer jouself in die plek van die vrou. Sien die rivier binne jou wat wil vloei en opspring. Vra die Here wat keer die vloei.

Sit ook met die ongemak en chaos van hierdie moeilike tyd. Die plekke en gewoontes waar jy dalk vashaak en gefrusteerd is. Nooi die vloei van die Gees na daardie plekke van jou lewe.


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page