Hoe om God te sien - 'n Reis met kontemplasie (Sessie 2)
- inviagemeente
- Sep 25
- 5 min read
Open my Oë
Open die oë van my sintuie dat ek kan kyk na wat hier is.
Open die oë van my verstand,dat ek kan waarneem wat waarlik is.
Open die oë van my hart,dat ek kan aanskou … die Teenwoordige.
Ek vra om die genade om te sien en Een te word.
Om te sien, is meer as net die gebruik van ons oë. Dit beteken om bewus te word en lei daartoe dat die oë van ons harte oopgemaak word sodat ons verder en dieper kan sien. Ons het almal die potensiaal om dieper te kan sien. Om met God se oë waar te neem. Om jou geestesoog te ontwikkel is iets wat geleer en geoefen kan word. Dit behels om waar te neem terwyl jy oop is vir 'n beeld om jou dieper te laat sien.
Om bv. die hand te sien - in beeldvorm sien jy die hand met 5 vingers. Die 5 vingers is die 5 sintuie wat poorte is tot die palm wat die bewussyn is.
Ontdek
Richard van St. Victor het in die 12de eeu geleer dat die mens drie oë het:
Oculus carnis – die oog van die vlees: sien fisiese werklikheid.
Oculus rationis – die oog van die rede: ontdek orde en betekenis.
Oculus fidei – die oog van geloof: sien die geestelike werklikheid.
Hierdie drie maniere van sien vul mekaar aan en lei ons na heelheid.
Sien: kies ’n voorwerp en verken.
Neem waar: voeg by en vorm verbande.
Aanskou: raak bewus om God in alles te vind.
Ont-leer
But even after our eyes begin to open and ears begin to hear, we continue to process our experience through our still-fragmented consciousness. The name that mystics give to this fragmentation is duality. Its opposite is seeing through the eyes of truth and understanding that allows us to apprehend reality as it truly is, a way of seeing that the mystics call contemplation. David Benner-Spirituality and the awakening self.
“ En Jesus sê vir hom: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy. Toe sê hy: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid. En Jesus sê: Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word. En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind? Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.” Johannes 9:37-41
Wat verhinder my om te sien?
In die storie van die genesing van die blinde man in Johannes 9 vind ons 'n paar karakters wat op verskillende maniere sien:
Jesus
Jesus aanskou die blinde man - Hy sien - siel , gees en liggaam
Dissipels:
Die dissipels sien die blinde man en wil dadelik weet wie het gesondig dat die man blind is.

Jy sien en gryp dadelik na 'n rede vir wat jy sien. Daar moet 'n rede wees vir die swaarkry, of selfs dat dit goed gaan. Hierdie is 'n vorm van valse sekuriteit en is nie lewensgetrou nie. Die lewe kom na ons almal op verskeie maniere, ons het baie keer min beheer daaroor. Jesus help hulle reg en antwoord dat niemand gesondig het nie - maar dat die werk van God geopenbaar moet word. Die werk van God is die geestelike sig van die blinde man wat geopenbaar word. Dit is die groot werk van God in ons elkeen.
Fariseërs:
Die Fariseërs sien net dat die wonderwerk op 'n Sabbatdag gebeur. Hulle volg die Wet van Moses en die Wet is oortree. Hulle sien, analiseer, evalueer en kategoriseer dit in "goed" of "sleg". Ek hou daarvan, of ek hou nie daarvan nie. Hulle sien soos wat hulle is, nie soos wat dit is nie. Jesus wys hulle daarop dat omdat jy dink jy kan sien, is jy blind. Die feit dat hulle dink hulle weet wat hulle sien, maak dat hulle nie 'n openheid het om te kan sien nie, hulle is reeds vol. Dit is 'n genadegawe om te kan sien, iets wat ons van die Here kan vra wanneer ons besef dat ons dit nodig het.
Blinde man:
Met die blinde man gaan dit meer as die fisiese genesing om te kan sien, maar eerder oor iets groter. Vir Jesus is dit nie genoeg dat die blinde man net kan sien nie, maar dat iets in hom verander. Sy lense word skoongemaak, en hy begin om vir Jesus te aanbid. Sy genesing was meer oor 'n heelmaking as oor die fisiese genesing.
Wat kan ons doen?
God gebruik genademiddele wat ons kan help om onsself meer leeg te maak soos wat Jesus homself leeggemaak het.
Frist Perls verduidelik na aanleiding van Gestalt- terapie dat elke ervaring uit 3 komponente bestaan:
Die onderwerp - die waarnemer
Die voorwerp - dit wat waargeneem word
Die fantasie - dit is gekoppel aan die onderwerp. Dit wat in my kop plaasvind terwyl ek waarneem - wanneer ek dit doen is ek in my kop en nie meer in die ervaring self nie. Ek raak besig met die interpretasie van die gebeurtenis. My denke neem my uit die ervaring. Ek begin om te analiseer. Ek mis dan om die ervaring direk te ervaar.
Wanneer ek dit agterkom, gaan ek dadelik terug na die sintuie - dit bring my terug in die oomblik.
Oefening:
Kyk na 'n boom.
Ervaring: Hier is ek nou, hier staan ek nou en kyk na die boom.
Wat ruik ek?
Hoe voel die boom?
Wat neem ek waar, ek wat my opval van die boom?
Ek word op hierdie manier teenwoordig vir die boom, en is dan in die ervaring van die boom. Dit maak my teenwoordig, en skep spasie binne my om op 'n nuwe manier te kyk en God in hierdie ervaring te ontmoet.
Wanneer ek besef ek weer terug is in my denke, kan ek dadelik net weer sintuie gebruik om na die ervaring terug te keer.
Ont-moet
Open my Oë
Open die oë van my sintuie dat ek kan kyk na wat hier is.
Open die oë van my verstand,dat ek kan waarneem wat waarlik is.
Open die oë van my hart,dat ek kan aanskou … die Teenwoordige.
Ek vra om die genade om te sien en Een te word.
Praktyk: Verbeeldingsgebed
“Verbeeldingsgebed” of "Ignation kontemplasie” is ’n unieke manier van gebed wat my sintuie en verbeelding insluit. In kontemplasie gebruik ek my vyf sintuie om ’n Evangelie-toneel binne te gaan waar ek met my oë en ore, hart en gevoel die heilige oomblik kan sien, hoor en beleef.
Verbeeldingsgebed: Joh 9
1. Lees die skrifgedeelte.
2. Kyk na wat jou aandag trek.
3. Kies om een van die karakters te wees. Jy kan ook 'n bystaander wees.
4. Plaas jouself met jou verbeelding in die situasie.
5. Ruik die see, voel die sonlig op jou liggaam. Waar staan jy ? Waar staan die karakters?
Wanneer jy goed in die gebeurtenis/ervaring gevestig is, neem dan deel.
Wat is besig om te gebeur? Laat toe dat jou verbeelding jou lei.
Met wie wil jy praat?
Watter vrae kom by jou op - van binne jouself?
Gaan in dialoog met Jesus daarmee.




