top of page

Hoe om God te sien- 'n Reis met kontemplasie

  • Aug 19, 2025
  • 4 min read

Updated: Sep 25, 2025


Open my Oë


Open die oë van my sintuie dat ek kan kyk na wat hier is.

Open die oë van my verstand,dat ek kan waarneem wat waarlik is.

Open die oë van my hart,dat ek kan aanskou … die Teenwoordige.


Ek vra om die genade om te sien en Een te word.



"Julle het immers ondervind dat die Here goed is." 1 Petrus 2:3

Ons sintuie is poorte van Realiteit na die brein. 

Volgens die Grieks Ortodokse Kerk is die bewustelikheidservaring gesetel in die hart. Dit is die manier waarmee jy ruik, proe, kyk, luister of vat. Om te kyk is nie net fisiologies nie, maar ook psigologies. Carl Jung het gevind ons siel dink in prente. Wanneer jy met intensie kyk, gebeur daar iets in die brein en dit maak emosies los. 


Ontdek


"Hoor, Israel, die Here onse God is 'n ewige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag." Deut 6:4

In die Ou Testament was om te luister die sintuig waarop baie klem gelê is. Volgens Abraham Hershel is Judiaïsme 'n spiritualiteit van luister. Hierdie is 'n aktiewe luister wat aandagtig is en lei tot gehoorsaamheid. 


Dit blyk dat in die Nuwe Testament is daar 'n verskuiwing na die sintuig: Kyk


Volgens Magi Ross ( Sien aanhegsel onder "lees") kom die woord "kyk"  as 'n opdrag 1300 keer in die Bybel voor. Sy verduidelik waar dit voorkom, maar ook hoe dit deur verskeie vertalings verwater en later heeltemal uitgelaat is. Die betekenis van "kyk en neem waar " het op party plekke heeltemal verlore geraak. 


Eksodus 33:20 " Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

Niemand kan God sien en bly leef nie, hier word gevra om op 'n ander manier God te sien.


Jes 6:3  verwys meer na 'n ervaring van God se teenwoordigheid.  


" Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid" 


Ont-leer

Jy word verander deur te kyk. Met die aanskouing gebeur iets innerliks met jou  - jou eie ekkigheid gaan verlore. 


Galasiërs 2:20: "Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat leef nie, maar Christus wat in my leef."


Ons aanskou nou die heerlikheid van God en word van gedaante verander na Sy heerlikheid. Daar is 'n ontmoeting, 'n nuwe bewussyn van wie Hy is, dat Hy bestaan. Om bewus te raak kan beskryf word as 'n belewenis van wat gebeur as jy God sien. 

"Maar ons almal, met onbedekte gesig, weerspieël die heerlikheid van die Here soos in 'n spieël, en word verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, soos dit van die Here, wat die Gees is, kom." 2 Korintiërs 3:18

Hierdie kyk verwys nie na intuïsie nie, m.a.w. nie iets wat van binne af ( baie keer beskryf as die 6e sintuig) ervaar word nie, maar eerder om saam met dit wat jy sien en voel ( jou sintuie) bewus te raak. Dit is nie altyd 'n duidelike prent nie, maar ek sien in, met oortuiging, 'n wete wat opkom of net 'n dieper bewuswording.


Ons raak bewus van 'n vergrote innerlike ruimte wat verder as die gewone bewussein strek. 




Ont-moet


Open my Oë

Open die oë van my sintuie dat ek kan kyk na wat hier is.

Open die oë van my verstand,dat ek kan waarneem wat waarlik is.

Open die oë van my hart,dat ek kan aanskou … die Teenwoordige.

Ek vra om die genade om te sien en Een te word.


Praktyk: Om my geestes oog te oefen


1. Ons begin deur om die Here te vra om ons oë oop te maak.

2. Neem iets fisies waar. ( Kyk na dinge wat jy normaalweg sien) 

3. Gaan dan verder - neem dieper waar

  • Wees tydsaam

  • Wat moes gebeur sodat hierdie voorwerp hier kan wees?

  • Word jy emosioneel geraak deur wat jy waarneem?

  • Waarvan raak jy verder bewus?


Let op die progressie:


1.“kyk” - die suiwer fisieke registrasie van wat daar is


2.“waarneem” - die verstandelike proses om realiteit te begryp en ’n innerlike beeld te vorm


3.“aanskou” - die hartlike, geestelike vermoë om die Teenwoordige (God se immanensie) waar te neem in alles.


4.“Een te word” - nie net transformasie nie, maar werklike eenwording/deelname aan die werklikheid wat jy aanskou.


Hierdie progressie van sintuig → verstand → hart weerspieël die klassieke spirituele tradisie van beweging van die uiterlike na die innerlike na die transendente, waar die hart as die sentrum van alle geestelike vermoëns funksioneer.


Een ding het ek van die Here gevra, dit sal ek soek: dat  ek al die dae van my lewe mag bly in die huis van die Here om die lieflikheid van die Here te sien en te mediteer in sy tempel. Ps 27:4

 


LEES

Seeds of hope - A Henri Nouwen reader deur Robert Durback


The shattered lantern - Rediscovering a felt presence of God deur Ronald Rolheiser



KYK


ERVAAR







bottom of page