top of page

Grendelam Aan't Fynkam: afgestomptheid en empatie



In hierdie grendeltyd vertel my buurman vir my baie stories so muurlangs. Hy vertel my van ’n jong meisie wat 100 jaar terug op Stellenbosch met melaatsheid gediagnoseer was. Sy is weggeneem Robbeneiland toe saam met al die ander sosiaal onaanvaarbare mense.  Sy het ook in isolasie op die eiland gesterf. Op tuisfront is al haar klere verbrand en haar naam is ook uit die kerk se register hier in Stellenbosch, doodgekrap. Sy was die slagoffer van ’n oergebruik so oud soos die Bybel (Lev 13-14), waar priesters die mense met melaatsheid as onrein verklaar het en hulle in isolasie laat leef het. 


Vandag weet ons van beter. Dit het niks met sonde te doen nie en nog minder val jou ledemate af. Dit is ’n siekte wat jou vermoë om fisies te voel of pyn te ervaar aantas, en wanneer jy dit verloor vermink en amputeer jy jouself sonder dat jy dit agterkom. 


Ons innerlike wêreld werk ook soos die siekte. Wanneer ek my vermoë om te voel verloor, vermink en amputeer ek my binnewêreld. Jy skraap jou naam uit die register van die lewe. 

Emosionele melaatsheid is apatie. Die somtotaal van die ineenstorting van jou wêreld en geloof in God. In Francois van Coke se woorde: 

“Kan iemand dalk 'n god bel

En vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie

Kan jy

Kan jy apatie spel”


Die ironie is dat ons met empatie en simpatie gebore word, maar ook met 'n instink na oorlewing. Hulle kom gemeng. My behoefte na kos en veiligheid as baba is so groot dat ander mense se realiteit nie vir my bestaan nie. Hierdie drang gaan nie weg hoe ouer ons word nie, maar die oerdrang na oorlewing vreet subtiel stukkie vir stukkie empatie in ons weg. 

In moeilijke tye soos dié, floreer emosionele melaatsheid. Vrees en oorlewing vreet soos ’n kanker in ons emosionele ingewande. Freud sou dit beskryf as 'n psigiese toestand waar my selfbelang en narsisme dit onmoontlik maak om ander mense se lewens net so eg as myne te sien. Ons sukkel om ander se pyn en vrese dieselfde prominensie te gee as ons eie.

Daarom gee God empatie. Empatie beteken dat jy nie meer net mense besoek op Robbeneiland nie, maar self daar gaan woon, in die sel gaan slaap en die pyn en onsekerheid van mense in die tronk te voel.

Hoe gee God empatie? 

Nie omdat ons intellektueel weet dat daar ’n probleem is nie. Ons word genees wanneer ons diepste instinkte geraak word deur ’n liefde wat jou nie eksploiteer nie en onvoorwaardelik jou wêreld respekteer en vashou. Dan breek ons harte oop met empatie. Dan word ander mense se realiteit net so waar soos my eie.

Dit is wat God nou in die Covid-19 pandemie aan mense wil gee. 

Geloofsgewoonte


Begin elke oggend en vra vir die genade van empatie. 

Gaan "staan in die skoene" van iemand anders. Jy kan iemand bel of emosioneel ondersteun. Of jy kan ook denkbeeldig in iemand se skoene staan. Kies doelbewus iemand waaruit jy geen voordeel kry nie, en selfs dalk nie van hou nie. Vra God hoe kan jy empatie toon? Voel daardie persoon se wêreld. Kan jy dalk bid? Iets fisies gee?


Vra God vir liefde en teenwoordigheid.

Doen dan die examen-gebed die aand. Loer op die web onder geloofsgewoontes as jy onseker is. Vra die Here om jou wysheid te Gee met die volgende vrae: Wat het jy geleer? Wat kan jy dalk anders doen? Watter weerstand het jy ervaar? Hoe het jy die teenwoordigeid van die Here ervaar?


Skakel Sondag om 10:00 op Facebook of YouTube in.

bottom of page