familiedag



Familiedag in Suid-Afrika word jaarliks gevier op die Maandag na Paasnaweek, 'n naweek waarop meeste mense moeite gedoen het om as gesin of familie saam te wees. 'n Dag wat ingestel is om weg te breek van harde werk en verpligtinge en te fokus op die familie. Hoe anders is dit nie hierdie jaar nie? Party van ons is nou al amper 'n maand saam as gesin en vir ander was dit 'n verlang-naweek, weg van jou familie en jou gesin.


Watter beelde kom by jou op as jy die woord “familie” hoor? Iets wat jou geborge laat voel, of dalk eerder met ’n gevoel van vervreemding laat?


Mós nou die een ding wat ons nie uit ’n katalogus kon kies nie. Geen left swipe/right swipe opsies vir hierdie verbintenis nie. ’n Gegewe.


Vir baie van ons is ons familie ’n bron van eindelose geluk en ’n plek van heenkome waar ons werklik die liefde waarin ons gemaak is ervaar. Vir ander is dit ’n diep wond en het vriende of ander selfgekose geliefdes daardie plek ingeneem. Jou tribe, soos ons daarna verwys. Friends (die TV-reeks) was seker een van die grootste anti-familie “bewegings”: die familie is verplaas deur die vriendekring; goeie dinge gebeur in die vriendekring, slegte goed in die familie. Maar ten minste kan ons daaroor lag (saam met ’n hele gehoor). Eintlik hartseer, maar die realiteit van die dag waarin ons leef.


Ons bly nie meer as familie ons lewe lank saam op een plaas nie. Ook nie soos die Von Trapp-kinders in Sound of Music onder die gesag van die militêre vaderfiguur wat ’n fluitjie om sy nek gebruik om al sewe sy kinders te dissiplineer nie. (Ek is seker vir baie van julle klink dit glad nie na so slegte plan na ’n moelike dag met jou een of twee kinders nie!)


Die norm van die sogenaamde nuclear family is al grootliks op sy kop gekeer, maar bepaal steeds hoe ons dink en praat oor families: “’n kinderlose egpaar, ’n enkelouerfamilie, ’n gebroke gesin” en die lys gaan aan. Dis nogal skokkend dat by verre die meeste mense nie eens kinders kry omdat hulle van kinders hou nie; hulle dink ’n mens het kinders omdat dit deel is van die lewe. G’n wonder baie van ons sukkel nie om die idee dat ons in liefde gemaak is, in ons familie te vind. Of skep dan ons eie families waarin ons sweer om alles wat ons ouers gedoen het letterlik andersom te doen.


Families en familiewees is kompleks. Dis nie ’n dooie organisasie of ’n blote struktuur nie. Dis ’n lewende organisme. ’n Dans tussen ’n paar mense wat probeer om saam ritme te hou op die meestal chaotiese, onritmiese dansbaan van hierdie lewe. Soms kry ons dit reg. Soms glad nie. Meestal het families slawe geword van die ekonomie van die dag, of die skool en ons aansien, of die TV-programrooster.


Op watter of wie se ritme dans jou familie?


Die essensie van dans en saam ritme hou is om te kan laat gaan én vas te hou. Om soms nader te tree en ander kere afstand te hou. Jesus het ’n paar goed gesê oor familie wat klink of dit teen ons grein ingaan.


Skriflesing


Luke 14:26-27 The Message (MSG)


One day when large groups of people were walking along with him, Jesus turned and told them, “Anyone who comes to me but refuses to let go of father, mother, spouse, children, brothers, sisters—yes, even one’s own self!—can’t be my disciple. Anyone who won’t shoulder his own cross and follow behind me can’t be my disciple."



As vele kerke se motto is, Family First, hoe versoen ons hierdie waarde met van sy moeilikste woorde wat sê dat jy moet laat gaan van jou familie om werklik ’n volgeling van Christus te wees?