top of page

Ek herhaal, wees bly!



Indien iemand uit Jupiter of Mars jou sou vra om te verduidelik hoe hulle ‘n Christen kan uitken, wat sou jy sê? Vergeet nou eers al die Christelike clichés en godsdienstaal wat gewone mense nie eers behoorlik kan verstaan nie!

'n Eenvoudige antwoord sal die woorde van Paulus wees: Iemand wat baie bly is.

Jesus word beskryf as iemand wat buitengewoon bly was (Heb 1:9). Paulus dink ook so aan Sy sentrale boodskap: “Want die koninkryk van God is…blydskap in die Heilige Gees.” (Rom 14:17-19).

Dit sou aansluit by al Jesus se stories wat altyd eindig met iemand wat bly is. Die blydskap is ook nie gekoppel aan ‘n sekere gebeurtenis of ‘n sekere waarde wat iets het nie. Dink maar aan die verlore penning. Die vrou is nie bly omdat sy baie geld gekry het nie. Sy is bly want sy het weer tien muntstukke. Getalle speel ‘n baie groot rol in die Bybel en 10 dui op volmaaktheid of heelheid.

Ons blydskap is slegs ‘n byproduk van God se teenwoordigheid wat ons ontdek wanneer ons nader kom aan ons eie geskapenheid. Tereg het CS Lewis eendag opgemerk: “Jy kan nie blydskap soek nie, dit soek jou!”

Ons gaan Sondag kyk na maniere hoe ons die “verlore pennings” kan soek sodat die heelheid wat ons in God het, aan ons die lewengewende gawe van Sy blydskap kan gee!

Wees bly, ek herhaal, wees bly! 


Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page