top of page

bid weer...


Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees." Joh 17:11 Jesus het gereeld vir sy dissipels gebid. Hy het hulle ook geleer dat hulle moet aanhou bid en nie moedeloos word nie (Luk 18:1). Na die opstanding het Hy vir veertig dae nog saam met hulle gekuier, en aan die einde van die veertig dae bid hy weer vir vir sy dissipels. Dit is sy laaste kuier en sekerlik wil hy net die belangrikste sê. Waarvoor bid hy? Dat God ons sal oppas, in die Naam wat Hy nie net vir Jesus gegee het nie, maar ook vir my en jou. God bewaar ons deurdat ons ons naam ken en onthou. Dit is nie die naam wat jou ouers aan jou gegee het nie, maar die naam wat God aan jou gee. Voor ons geboorte het God ons reeds geken en 'n naam en roeping gegee (Jer 1:5). Elke roeping in die Bybel is 'n terugkeer na wie ons werklik is. En, ongelukkig vergeet ons maklik daardie naam. Ons word geleer 'jy moet 'n goeie naam vir jouself maak'. En dit is reeds die probleem. Baie vroeg op ons lewensreis glo ons jy kry 'n goeie naam in jou sukses, of jou aanvaarding of die invloed wat jy op hierdie aarde het. Maar wat gaan gebeur as jy soos Jesus die aanvaarding (selfs van sy dissipels) verloor, alle mag moet oorgee en geen sekuriteit het nie? Jy bid, en hou aan met bid. Dit is wat Hy ons leer. Waarom? Toets God ons? Wil die Here ons deursettingsvermoë of toewyding sien? Of waarborg massa-gebede die beantwoording van gebed? Hoor God dan nie my gebede die eerste keer nie? Die woord 'angs' - wat Jesus se gebede beskryf in 'n moeilike tyd van isolasie in sy lewe - is baie betekenisvol. Daar word gepraat van 'n doodsangs waarmee Jesus ernstig gebid het (Luk 22:44). Die woord vir angs is 'n tegniese term wat vir atlete gebruik is. Voordat atlete die stadium kon betree om deel te neem moes hulle letterlik sweet en elke spier regkry om deel te neem sodat hulle nie 'n besering opdoen nie. Gebed is met ander woorde soos oefening en voorbereiding. Die afgelope tyd het ons na Jesus se lewe gekyk en gesien dat sy angs het nie gegaan oor die onsekerheid of die Here hom gaan red of nie. Daarom verwag Hy geen bonatuurlike ingryping aan die kruis nie. Inteendeel, dit was reeds een van die versoekings aan die kruis! Sy gebede het meer gegaan om te midde van teëstand, pyn en die dood, vas te hou aan die bron van Sy lewe en dat hy met krag kan lewe te midde van vernedering, verlies en onregverdigheid. Die woorde wat Jesus vir sy dissipels sê om saam met hom te bid is die wese van gebed: "Wil julle nie wakker bly saam met my nie..." Dit is om wakker te bly en bewus te wees van wie ons is in God. Jesus kon in die moeilikste tye van sy lewe hoor en vashou aan wie Hy werklik is. Om te weet wie ek is, is nie 'n intellektuele oortuiging nie, maar eerder 'n hartsversmelting met God. In ons een word met God, ervaar ons ook wie ons is.  Jesus hoor by sy doop hierdie woorde. Dit is ook die woorde wat Hy hoor elke keer wanneer hy bid.

Geloofsoefening vir die dag

Maak 'n lys van die moeilike goed waarvoor jy bid. Raak bewus van die feit dat God ons uitnooi om te bid en nie moedeloos te word nie. Belangriker as die beantwoording van jou gebed, is die ervaring van wie jy is, wanneer jy met God praat. Dink vandag aan hierdie woorde van Ronald Rolheiser: "Prayer is meant to keep us awake, which means it’s meant to keep us connected to a source outside our of natural instincts and proclivities which can keep us grounded in love, forgiveness, non-retaliation, and non-violence when everything inside of us and around us screams for bitterness, hatred, and retaliation. And if Jesus had to sweat blood in trying to stay connected to that source when he was tested, we can expect that the cost for us will be the same, struggle, agony, wanting in every fiber of our being to give in, clinging to love precariously by the skin of our teeth, and then having God’s angel strengthen us only when we’ve been writhing long enough in the struggle so that we can let God’s strength do for us what our own strength cannot do."

Vir gesinne (of wie ookal wil):

Begin met die eenvoudige beginsels van "Wat is gebed?" Gebruik 'n selfoon en vra waarvoor word dit gebruik? Luister mooi na al die idees en probeer dit gebruik om te illustreer dat gebed beteken ook om met God te praat. Wat is die verskille tussen gebed en 'n selfoon? Hoe bel ons God? Bv. Ons het nie 'n nommer nodig nie en ook nie 'n sein nie, omdat God orals is, en omdat ons sy kind is, kan ek enige tyd vra en Hy sal graag wil luister. Maak die punt dat jy as ouer net die beste wil gee vir julle kinders, en net so God ook. "As julle dan wat sleg is, weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?" (Luk 11:13) Probeer die beginsel van "angs" as oefening vir atlete vir jou kind te verduidelik. Hoe meer ons oefen hoe makliker word dit om 'n sport te bemeester. Oefen vra opoffering en ons is nie altyd lus om te oefen nie - net so is dit baie keer met gebed. Probeer die beginsel leer dat ons moet aanhou vra. 'n Goeie vraag om dalk te vra is waarom jy as ouers nie nou alles aan jou kind kan gee nie? (Bv as 'n 3 jarige kind vir 'n skerp mes vra, gaan ons dit nie gee nie. Maar as 'n 20 jarige vir 'n skerp mes vra, sal ons dit gee, want hy weet hoe om dit te hanteer ens.) Net so sal God ons antwoord op die tyd, in die regte omstandighede. 

Herhaalgebed

Here, leer my om aan te hou bid.


Geskryf deur Theo en Wilma Geyser.

bottom of page